7 Daarna moet hy die twee bokke vat wat hy by die volk gekry het en hulle voor die Here by die ingang van die tent laat staan.
8 Hy moet lootjies trek tussen die twee bokke om vas te stel watter bok hy vir die Here moet offer en watter een hy die woestyn in moet wegstuur, vir Asasel, die demoon wat in die woestyn bly.
9 Aäron vat dan die bok wat vir die Here geloot is en slag dit om dit vir die volk se sonde te offer.
10 Die ander bok wat bly leef het en weggestuur moet word, bring hy eers voor die Here om daardeur vrede met God te maak voor hy dit wegstuur na die woestyn toe.
11 “Hy vat dan die bul wat hy self gebring het en offer dit vir sy sonde, en maak vrede tussen die Here en die mense van sy huis.
12 Hy skep met ’n vuurpan kole wat warm gloei van die altaar af daar voor die Here en vat dit saam met twee hande vol fyngemaalde wierook agter die gordyn in die tent in.
13 Wanneer hy daar binne voor die Here die wierook oor die kole strooi, sal daar ’n wolk van die wierook opstyg. Dit sal oor die deksel gaan hang wat op die houer is waarin die getuienis van God se ooreenkoms met sy volk gehou word. Hy sal die deksel glad nie kan sien nie en nie doodgaan nie.