18 Moenie loop en kyk hoe jy iemand kan terugkry nie. Moenie met ’n grief rondloop teen een van jou volksgenote nie. Jy moet net soveel vir ander omgee as wat jy vir jouself omgee. Ek is die Here.”
19 “Julle moet by my reëls hou. Moenie verskillende soorte diere met mekaar paar nie. Julle moet ook nie verskillende soorte saad in dieselfde land saai nie. Julle moet ook nie klere dra wat van verskillende soorte materiaal gemaak is nie.
20 Iemand anders se werker kan aan ’n ander man beloof wees. As iemand by haar slaap terwyl die ander man nog nie vir haar betaal het nie en haar eienaar het haar nog nie laat gaan nie, moet daar slegs vergoeding betaal word. Die twee hoef egter nie doodgemaak te word nie. Sy behoort nog steeds aan die oorspronklike eienaar.
21 Die man wat by haar geslaap het, moet ’n ram vir sy skuld by die ingang van die Here se tent kom offer.
22 Die dienaar by die tent sal die ram slag om vir hom vergifnis by die Here te kry vir die oortreding wat hy begaan het. Hy sal vergewe word vir wat hy aangevang het.
23 “Wanneer julle in die land gaan woon waarheen Ek julle vat en julle vrugtebome daar plant, moet julle vir die eerste drie jaar glad nie die vrugte pluk nie. Hulle is dan soos iemand wat nog nie besny is en nog nie aan my volk behoort nie. Hulle mag nog glad nie geëet word nie.
24 In die vierde jaar moet al die vrugte aan die Here gewy word om vir Hom daarvoor dankie te sê.