22 Die dienaar by die tent sal die ram slag om vir hom vergifnis by die Here te kry vir die oortreding wat hy begaan het. Hy sal vergewe word vir wat hy aangevang het.
23 “Wanneer julle in die land gaan woon waarheen Ek julle vat en julle vrugtebome daar plant, moet julle vir die eerste drie jaar glad nie die vrugte pluk nie. Hulle is dan soos iemand wat nog nie besny is en nog nie aan my volk behoort nie. Hulle mag nog glad nie geëet word nie.
24 In die vierde jaar moet al die vrugte aan die Here gewy word om vir Hom daarvoor dankie te sê.
25 Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte eet. So sal die bome meer vrugte dra. Ek is die Here, julle God.
26 “Moenie deelneem aan seremonies waar daar bloed gedrink word nie. Moenie julle tyd mors met voorspellings en waarsêery nie.
27-28 Julle moet ook nie die hare teen julle slape en die kant van julle baard afskeer en merke in julleself kerf of tatoeëermerke op julle lyf maak soos die heidene wanneer hulle oor die dooies rou nie. Ek is die Here.
29 Jy mag nooit jou dogter beskikbaar stel om afgode te aanbid nie. Jy mag haar nooit as ’n prostituut by ’n heidense tempel laat werk nie. Dit sal maak dat die land se mense agter afgode aangaan en die land vol skandelike dinge word.