6 Eet die vleis van hierdie offer nog op dieselfde dag wat julle dit slag. Julle kan dit selfs nog op die dag daarna eet. As daar op die derde dag nog iets daarvan oor is, moet julle dit verbrand.
7 Dit is nie vir My reg as daar nog op die derde dag van die vleis van die offer geëet word nie. Dit het dan alreeds sleg geword.
8 Iemand wat dit eet, doen boonop sonde, want hy gebruik die offer wat vir die Here gebring is vir homself. Daar is nie plek vir sulke mense in my volk nie.
9 Wanneer julle oes, moet julle nie alles tot op die kant van die land wegoes nie. Julle moet ook nie die are wat met die oes op die grond bly lê het, agterna weer gaan optel nie.
10 Julle moet ook nie julle wingerde kaal stroop tot op die laaste korrel nie. Moenie die druiwe wat geval het, gaan optel nie. Los dit vir die arm mense en vir die vreemdelinge van ander plekke wat by julle bly. Ek is tog die Here julle God.”
11 “Julle moenie mekaar se goed steel nie. Julle moet ook nie mekaar belieg en bedrieg nie.
12 Julle moet ook nie my Naam gebruik en dan ’n vals belofte aflê nie. Julle maak dan die Naam van julle God belaglik. Ek is tog die Here.