32 Die dag van vrede moet ’n dag wees waarop julle julleself van alles losmaak en voor God kom neerbuig. Dit moet begin op die aand van die negende dag en aangaan tot die aand van die tiende dag.”
33 Die Here het ook nog verder deur Moses
34 vir die Israeliete gesê: “Die fees van die hutte is op die vyftiende dag van dieselfde sewende maand. Julle moet dit sewe dae lank tot eer van die Here vier.
35 Julle moet op die eerste dag vir die Here saamkom. Julle moet op daardie dag ook al julle werk laat staan.
36 Vir die volgende sewe dae moet julle elke dag vir die Here ’n offer bring. Die agtste dag is ’n besondere feesdag. Julle moet op daardie dag weer bymekaarkom en vir die Here nog ’n offer bring. Julle moet ook op hierdie dag julle werk laat staan.”
37 “Dit is dan al die feesdae van die Here. Op hierdie dae moet julle byeenkomste hou. Bring vir die Here offers wat verbrand word, offers wat op die altaar gebring word, offers wat julle saam met die Here eet en ook offers van wyn soos dit vir elkeen van die feesdae bepaal is.
38 Die dae moet gevier word bo en behalwe die gereelde rusdae van die Here op elke sewende dag. Die offers wat julle by die feeste bring, kom nog by die geskenke en die offers wat julle vir die Here belowe het en by die vrywillige offers wat julle uit julle eie vir die Here bring.