37 Jy moenie rente vra op die geld wat jy vir hom leen nie. Jy moet ook nie vir hom kos gee en ekstra geld daarvoor vra nie.
38 Ek is tog die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het, juis om Kanaän aan julle te gee om dit te besit en om julle God te wees.
39 “As ’n ander Israeliet so diep in die skuld raak dat hy verplig word om homself as ’n slaaf aan jou te verkoop om sy skuld te betaal, moet jy hom nie soos ’n slaaf behandel en hom slawewerk laat doen nie.
40 Jy moet hom behandel soos iemand wat tydelik in jou diens is, of soos ’n werknemer wat in jou huis woon. Laat hy in jou diens bly tot in die hersteljaar.
41 Hy en sy kinders moet dan van jou af weggaan en as vry mense terugkeer na hulle familie en hulle erfgrond toe.
42 Die mense wat Ek uit Egipte laat wegtrek het, dien net vir My. Hulle mag nooit aan ander mense as slawe verkoop word nie.
43 Omdat jy ontsag moet hê vir jou God, mag jy nie hardhandig baasspeel oor dié wat vir jou werk nie.