26 “Die eerste kalf van ’n koei en die eerste lam van ’n bok of ’n skaap wat gebore word, behoort volgens die reëls alreeds aan die Here. ’n Mens kan nie nog verder een van hulle aan die Here beloof nie, want dit is alreeds Syne.
27 As dit die eerste kleintjie is van ’n dier wat nie op die altaar geslag mag word nie, kan die persoon dit afkoop vir een vyfde meer as die afkoopwaarde. As hy dit nie wil afkoop nie, moet die dienaar by die Here se tent dit teen sy vasgestelde afkoopwaarde verkoop.”
28 “Enigiets wat iemand heeltemal aan die Here afgestaan het en wat nie langer deur ’n mens gebruik mag word nie, of dit nou ’n mens of ’n dier of ’n lap erfgrond is, kan nooit weer afgekoop of verkoop word nie. Dit behoort net aan die Here en aan Hom alleen.
29 Geen mens wat as ’n offer aan die Here beloof is, kan weer teruggekoop word nie. Daardie persoon moet doodgemaak word.
30 “Een tiende van alles wat die land oplewer, van al die graan en van al die vrugte, behoort uitsluitlik aan die Here en aan Hom alleen.
31 As iemand van die tiende wat hy moet afstaan, iets wil terugkoop, moet hy ’n vyfde by die waarde daarvan byvoeg.
32 ’n Tiende van julle beeste en julle kleinvee behoort buitendien aan die Here. Om te bepaal watter aan die Here afgestaan moet word, moet julle so maak: laat die diere by jou verbykom en soos hulle verbykom, moet elke tiende een uitgekeer word en aan die Here afgestaan word.