7 Die bedrag vir ’n man bo 60 is vyftien stukke en vir ’n vrou bo dieselfde ouderdom is dit tien stukke.
8 “As die persoon wat die belofte gemaak het nie hierdie bedrag kan bekostig nie, moet hy die persoon wat hy aan God belowe het, na die dienaar by die tent toe vat. Hy sal dan ’n kleiner afkoopsom bepaal wat binne die vermoë is van die persoon wat die belofte gemaak het.”
9 “As hy ’n dier wat geskik is om geoffer te word aan die Here beloof het, behoort dit geheel en al aan die Here.
10 Hy mag nie die dier omruil met ’n ander dier of dit vervang met óf iets beters óf iets slegters nie. As hy tog wel probeer om een dier met ’n ander een om te ruil, sal sowel die plaasvervanger as die dier wat eerste belowe is, aan die Here behoort.
11 As die dier wat vir die Here belowe is ’n dier is wat nie op die altaar geoffer mag word nie, moet die dier na die dienaar by die Here se tent gebring word
12 om dit te waardeer. Hy bepaal die bedrag wat vir die dier betaal moet word, en daaroor word nie verder gekibbel nie.
13 As die persoon wat die belofte gemaak het, die dier vir homself wil terugkoop, moet hy nog ’n vyfde byvoeg by die bedrag wat die dienaar gesê het.”