9 Hy sny ook die twee niere en die vet wat daaraan is, by die kruis uit en die vet van die niere wat by die lewer is.
10 Dit is dieselfde dele wat by die bul uitgesny word wat vir die Here geoffer word om saam met Hom te eet. Hy verbrand dit dan alles op die altaar met vuur.
11 Die res van die bul, sy vel, al sy vleis, sy kop en sy pote, sy binnegoed en alles wat daarin is,
12 alles van die bul, moet hy uitvat buitekant die laer na die plek wat eenkant gesit is vir die vet en die as wat van die tent af kom. Op daardie plek buite die kamp waar die vet en die as gewoonlik verbrand word, moet hy dan al hierdie dele van die bul op ’n houtvuur verbrand.
13 “As die hele geloofsgemeenskap van Israel oortree het, is hulle almal skuldig. Selfs al was die groep onbewus daarvan dat hulle iets gedoen het wat in die Here se wette verbied is, is hulle almal skuldig.
14 As dit duidelik word dat hulle oortree het, moet hulle almal saam ’n bul na die tent van ontmoeting bring om dit vir hulle sonde te offer.
15 Die leiers van die groep moet daar voor die Here hulle hande op die bul se kop sit. Hulle slag dan die bul voor die Here.