7 “As iemand nie een van hierdie diere kan bekostig nie, mag hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe vir die Here bring om vir sy skuld te betaal. Die een duif betaal vir sy sonde. Die ander een is ’n offer wat vir die Here verbrand word.
8 Hy moet die twee duiwe vir die dienaar by die tent bring. Die dienaar offer die een wat vir die sonde is eerste. Hy draai sy nek om en knyp sy kop agter die nek af. Hy mag dit egter nie afskeur nie.
9 Die dienaar spat van die bloed van die duif teen die kant van die offerplek. Die bloed wat oor is, druk hy teen die voet van die altaar uit. Dit is dan ’n offer vir die sonde wat die persoon gedoen het.
10 Die tweede duif verbrand hy volgens die voorskrifte wat vir hom gegee is. So bring die dienaar by die tent vir die man vrystelling van die oortreding wat hy begaan het. God vergewe hom.
11 “Indien ’n persoon nie genoeg geld het vir twee tortelduiwe of twee jong duiwe nie, kan die persoon wat oortree het, twee kilogram fynmeel vir sy sonde bring. Omdat dit ’n offer vir sy sonde is, mag hy nie olyfolie of geurige wierook daaroor sit nie.
12 Hy bring die meel na die dienaar by die tent van ontmoeting. Die amptenaar sal dan ’n hand vol daarvan vat vir die deel wat verbrand moet word en dit op die altaar verbrand saam met die diere wat vir die Here in die vuur verbrand word. Dit sal die offer vir sy sonde wees.
13 Op hierdie manier bring die dienaar ’n offer vir enige van die oortredings wat hierbo genoem is wat die persoon begaan het. Die persoon word vir sy oortreding vergewe. Met die meel wat oor is, maak die dienaar net soos met dié wat oor was by die offer wat gebring is om saam met die Here te eet.”