13 Saam met hierdie offer waarmee hy dankie wil sê, bring hy verder ook nog ’n ronde brood waarin daar wel suurdeeg is.
14 Hy vat van elkeen van hierdie verskillende soorte brood en bied dit vir die Here as ’n buitengewone offer aan. Die dienaar wat dit na die altaar vat, mag self ook daarvan eet.
15 “Die vleis van die offer waarmee iemand kom dankie sê, moet op dieselfde dag waarop die offer gebring word, opgeëet word. Daar mag niks daarvan oorbly tot die volgende oggend nie.
16 As iemand ’n offer vir die Here bring om ’n belofte na te kom, of sommer net vrywillig iets vir die Here offer, moet dit nog dieselfde dag geëet word. As daar wel iets oorbly, mag dit egter nog op die volgende dag geëet word.
17 Die vleis wat op die derde dag nog oor is, moet egter heeltemal verbrand word.
18 As daar wel nog van die vleis van die offer oorbly op die derde dag en dan geëet word, sal dit nie meer deurgaan as ’n offer vir die Here nie. Dit sal nie langer by die Here in daardie persoon se guns tel nie. Dit sal as slegte vleis gesien word. Iemand wat ook nog daarvan eet, oortree teen die bevele van die Here.
19 Vleis wat in aanraking kom met enigiets anders wat as onwenslik en vuil beskou word, mag nie geëet word nie. Dit moet met vuur verbrand word. Elkeen wat aan die Here se voorskrifte voldoen en aan Hom toegewyd is, mag van die vleis van die offer eet.