24 Moses het ook Aäron se seuns laat nader kom en van die bloed aan elkeen se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon gesmeer. Moses het die bloed wat oor was teen die kante van die altaar uitgegooi.
25 Hy het toe van die ram se vet gevat, sy vetstert, al die vet aan die binnegoed, die punt van sy lewer, sy twee niere, asook die niervet en sy regterblad.
26 Hy het uit die mandjie vol brode wat sonder suurdeeg gebak is en voor die Here gestaan het, ’n ronde brood gevat, en ’n ringbrood wat met olie gebak is en ’n roosterkoek, en dit by die vet en die regterblad gesit.
27 Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle het dit as beweegoffer aan die Here opgedra.
28 Moses het dit toe weer by hulle gevat en dit bo-op die offer op die altaar gesit en alles verbrand. Dit was ’n offer om Aäron en sy seuns aan die Here op te dra, ’n offer wat met vuur verbrand word waarvan die Here baie hou.
29 Moses het toe die stuk van die ram se bors gevat en dit ook aan die Here opgedra. Dit was die deel van die ram wat vir die aanstelling van die dienaars gebruik is, wat die Here gesê het Moses vir homself kan vat.
30 Moses het van die olie en van die bloed wat by die altaar was, gevat en op Aäron en oor sy klere, en ook oor sy seuns en oor hulle klere gesprinkel. So het hy Aäron en sy klere en sy seuns en hulle klere aan die Here toegewy.