5 Die Israeliete het toe al die goed wat Moses opgenoem het, na die tent van ontmoeting gevat. Almal het daar bymekaargekom en voor die Here gaan staan om Hom te ontmoet.
6 Toe sê Moses vir hulle: “Dit is presies wat die Here wou hê julle moes doen sodat julle kan ervaar hoe geweldig groot Hy is.”
7 Moses sê toe vir Aäron: “Kom jy nou na die altaar toe en bring die dier wat jy vir jou sonde offer en die dier wat jy op die altaar in die vuur verbrand, sodat jy jou skuld by die Here kan betaal en met Hom vrede kan kry. Bring ook die volk se offer sodat hulle skuld ook betaal kan word, soos die Here gesê het ons moet maak.”
8 Aäron het toe na die altaar gegaan en die kalf vir sy sonde geslag.
9 Sy seuns het die bloed vir hom gebring. Hy het sy vinger daarin gesteek en daarvan aan die punte van die altaar gesmeer. Die bloed wat oor was, het hy onder teen die altaar uitgegooi.
10 Hy het die vet en die niere en die lewerpunt van die dier op die altaar verbrand, soos die Here gesê het Moses moet maak.
11 Die dier se vleis en die vel het hy egter buite die kamp laat verbrand.