7 Moses sê toe vir Aäron: “Kom jy nou na die altaar toe en bring die dier wat jy vir jou sonde offer en die dier wat jy op die altaar in die vuur verbrand, sodat jy jou skuld by die Here kan betaal en met Hom vrede kan kry. Bring ook die volk se offer sodat hulle skuld ook betaal kan word, soos die Here gesê het ons moet maak.”
8 Aäron het toe na die altaar gegaan en die kalf vir sy sonde geslag.
9 Sy seuns het die bloed vir hom gebring. Hy het sy vinger daarin gesteek en daarvan aan die punte van die altaar gesmeer. Die bloed wat oor was, het hy onder teen die altaar uitgegooi.
10 Hy het die vet en die niere en die lewerpunt van die dier op die altaar verbrand, soos die Here gesê het Moses moet maak.
11 Die dier se vleis en die vel het hy egter buite die kamp laat verbrand.
12 Hy het toe ook die offer gebring wat op die altaar verbrand word. Sy seuns het die bloed vir hom aangegee en hy het daarvan teen die kante van die altaar gespat.
13 Hulle het die verskillende dele van die dier wat geslag is, vir hom aangegee om op die altaar te laat brand en ook die dier se kop. Hy het dit alles op die altaar verbrand.