1 Toe Sha’ul aan die begin van twee jaar in sy koninkryk oor Yisra’el geheers het,
2 het Sha’ul vir hom drie duisend man uit Yisra’el gekies, waarvan twee duisend by Sha’ul in Mikhmas en op die bergland van Beit-El was terwyl ’n duisend by Y’honatan in Giv’ah-Binyamin was, maar hy het die res van die mense weggestuur, elkeen na sy tent.
3 Y’honatan het die garnisoen van die F’lishtyne, wat in Geva was, verslaan en die F’lishtyne het daarvan gehoor. Toe het Sha’ul die ramshoring reg deur die land geblaas en gesê: “Laat die Hebreërs dit hoor!”
4 Die hele Yisra’el het die nuus gehoor dat Sha’ul die garnisoen van die F’lishtyne verslaan het en ook dat Yisra’el haatlik geword het vir die F’lishtyne. Die manne is toe opgeroep na Sha’ul by Gilgal.
5 Die F’lishtyne het bymekaargekom om teen Yisra’el te veg; drie duisend strydwaens en ses duisend perderuiters en manne in menigte soos die sand wat op die seestrand is en hulle het opgekom en kamp opgeslaan by Mikhmas, oos van Beit-Aven.
6 Toe die manne van Yisra’el sien dat hulle in die nood is, want die volk was in benoudheid, het die mense weggekruip in grotte, doringbosse, in kranse, in kelders en in kuile.
7 Sommige van die Hebreërs het ook oor die Yarden gegaan na die land van Gad en Gil’ad, maar Sha’ul was steeds in Gilgal en al die manne wat hom bewend gevolg het.
8 Hy het sewe dae lank gewag, volgens die vasgestelde tyd wat Sh’mu’el bepaal het, maar Sh’mu’el het nie na Gilgal gekom nie en die manne het van hom af verstrooid geraak.
9 Sha’ul het gesê: “Bring die brandoffer en die vredesoffers na my toe.” Hy het die brandoffer geoffer.
10 Net toe hy die brandoffer klaar geoffer het, let op, het Sh’mu’el gekom en Sha’ul het uitgegaan om hom te ontmoet en hom te groet.
11 Sh’mu’el sê egter: “Wat het jy gedoen?” Sha’ul sê: “Omdat ek gesien het dat die manne van my af verstrooid raak en dat u nie kom in die vasgestelde dae nie en dat die F’lishtyne in Mikhmas bymekaarkom,
12 het ek daarom gesê: ‘Nou sal die F’lishtyne afkom teen my in Gilgal en ek het nie die guns van יהוה gevra nie.’ Ek het myself geforseer en die brandoffer gebring.”
13 Sh’mu’el sê vir Sha’ul: “Jy het dwaas opgetree; jy het nie die opdrag van יהוה, jou God, wat Hy jou beveel het, gehou nie, want nou sou יהוה jou koningskap oor Yisra’el vir altyd bevestig het,
14 maar nou sal jou koningskap nie voortbestaan nie. יהוה het vir Hom ’n man volgens Sy eie verstand, wil en emosie uitgesoek en יהוה het hom as heerser oor sy mense aangestel omdat jy nie gehou het wat יהוה jou beveel het nie.”
15 Toe het Sh’mu’el opgestaan en opgegaan van Gilgal na Givah-Binyamin en Sha’ul het die manne wat by hom was getel, omtrent ses honderd man.
16 Sha’ul, sy seun Y’honatan en die manne wat by hulle aanwesig was, het in Geva in Binyamin gebly terwyl die F’lishtyne by Mikhmas gekamp het
17 en die roofkommandos het vanaf die kamp van die F’lishtyne gekom in drie afdelings: een afdeling het weggedraai in die rigting van `Ofrah, na die land van Shu’al toe
18 en ’n ander afdeling het weggedraai in die rigting van Beit-Horon en ’n ander afdeling het weggedraai in die rigting van die grens wat oor die vallei van Tzvo’im na die woestyn uitkyk.
19 Geen smid was te vinde in die hele land van Yisra’el nie, want die F’lishtyne het gesê: “Anders sal die Hebreërs swaarde of spiese maak.”
20 Al die Yisra’eliete moes daarom na die F’lishtyne afgaan om elkeen sy ploegskaar, sy pik, sy byl of sy skoffel skerp te maak.
21 Die prys was twee-derdes van ’n sikkel vir die ploegskare, die pikke, die vurke, die byle en om die skoffels reg te maak.
22 So het dit gekom op die dag van die geveg dat daar geen swaard of spies te vinde was in die hande van enige van die manne wat by Sha’ul en Y’honatan was nie, maar wel by Sha’ul en sy seun Y’honatan.
23 Die garnisoen van die F’lishtyne het uitgegaan na die pas van Mikhmas.