1 Sh'mu'el 27 PWL

1 Toe het Dawid by homself gesê: “Nou, ek sal eendag omkom deur die hand van Sha’ul. Daar is vir my niks beter as om te ontsnap na die land van die F’lishtyne nie. Sha’ul sal dan hoop opgee in sy soeke na my in die hele grondgebied van Yisra’el en ek sal uit sy hand ontsnap.”

2 Dawid en die ses honderd man wat by hom was, het opgestaan en oorgegaan na Akhish, die seun van Ma’okh, die koning van Gat.

3 Dawid het by Akhish, in Gat, gebly, hy en sy manne, elkeen met sy huishouding; Dawid met sy twee vroue, Agino’am uit Yizre’el en Avigayil, die weduwee van Naval, van Karmel.

4 Dit is aan Sha’ul vertel dat Dawid na Gat gevlug het. Hy het dus nie verder na hom gesoek nie.

5 Toe het Dawid vir Akhish gesê: “As ek guns in u oë gevind het, laat hulle vir my ’n plek gee in een van die plattelandse stede dat ek daar kan woon, want waarom sou u dienskneg in die koninklike stad by u woon?”

6 Akhish het vir hom Ziklag gegee op dié dag; daarom het Ziklag aan die konings van Y’hudah behoort tot vandag toe.

7 Die hoeveelheid dae wat Dawid in die land van die F’lishtyne gebly het, was ’n jaar en vier maande.

8 Dawid en sy manne het opgegaan en die G’shuriete, die Gizriete en die `Amalekiete aangeval, want hulle was van ouds af die bewoners van die land, soos jy by Shur kom en so ver as die land van Mitzrayim.

9 Dawid het die land aangeval en nie ’n man of vrou laat lewe nie en hy het die skape, beeste, donkies, kamele en klere weggevat. Toe het hy teruggegaan en by Akhish gekom.

10 Akhish het gesê: “Waar het julle vandag ’n aanval geloots?” Dawid het gesê: “Teen die Suidland (Negev) van Y’hudah, teen die Suidland van die Yeragme’eliete en teen die Suidland van die Keiniete.

11 Dawid het nie ’n man of vrou laat lewe om dié na Gat te bring nie, want hy het gedink: “Anders sal hulle aangaande ons vertel en sê: ‘So het Dawid gedoen en dit was sy manier al die dae wat hy in die land van die F’lishtyne gebly het.’”

12 Akhish het Dawid vertrou en gesê: “Hy het homself sekerlik gehaat gemaak by sy mense, Yisra’el; daarom sal hy vir altyd my dienskneg word.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31