1 Sh'mu'el 17 PWL

1 Die F’lishtyne het hulle leërs bymekaargebring vir oorlog en vergader by Sokhoh wat aan Y’hudah behoort en kamp opgeslaan tussen Sokhoh en `Azekah in Efes-Dammim.

2 Sha’ul en die manne van Yisra’el het bymekaargekom en gekamp in die vallei van Elah en in gevegsorde opgestel om teen die F’lishtyne te veg.

3 Die F’lishtyne het aan die een kant op die berg gestaan terwyl Yisra’el aan die ander kant op die berg gestaan het, met die vallei tussen hulle.

4 Toe kom daar ’n kampioen uit die leërs van die F’lishtyne, genaamd Golyat, vanaf Gat; sy lengte was ses el en ’n span (2,92 meter).

5 Daar was ’n koper helmet op sy kop en hy was geklee in ’n pantser van skubbe wat vyf duisend sikkels koper geweeg het,

6 met skeenplate van koper aan sy bene en ’n koper lans tussen sy skouers.

7 Die steel van sy spies was soos ’n wewersbalk en die lem van sy spies was ses honderd sikkels yster; sy skilddraer het ook voor hom geloop.

8 Hy het gaan staan en geskree na die gevegsordes van Yisra’el en vir hulle gesê: “Hoekom kom julle uit om op te trek in gevegsdrag? Is ek nie die F’lishtyne en julle diensknegte van Sha’ul nie? Kies vir julleself ’n man en laat hom afkom na my toe.

9 As hy in staat is om teen my te veg en my dood te maak, dan sal ons julle slawe word, maar as ek hom oorwin en hom doodmaak, dan moet julle ons diensknegte word en ons dien.”

10 Weer sê die F’lishtyn: “Ek daag die gevegsordes van Yisra’el vandag uit! Gee vir my ’n man dat ons saam kan veg.”

11 Toe Sha’ul en die hele Yisra’el hierdie woorde van die F’lishtyn hoor, was hulle ontsteld en baie bang.

12 Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Beit-Legem in Y’hudah, met die naam van Yishai; hy het agt seuns gehad. Yishai was oud in die dae van Sha’ul, ver gevorderd in jare onder mense.

13 Die drie oudste seuns van Yishai het Sha’ul in die oorlog gevolg en die name van sy drie seuns wat na die oorlog gegaan het, was Eli’av, die oudste en die tweede na hom, Avinadav en die derde, Shammah.

14 Dawid was die jongste. Die drie oudstes het Sha’ul gevolg,

15 maar Dawid het heen en weer gegaan van Sha’ul af om sy vader se kleinvee in Beit-Legem op te pas.

16 Die F’lishtyn het in die oggend en in die aand vorentoe gekom en gaan staan, veertig dae lank.

17 Toe het Yishai vir sy seun Dawid gesê: “Vat nou vir jou broers ’n efa van hierdie gebraaide graan en hierdie tien brode en hardloop na die kamp na jou broers toe.

18 Bring ook hierdie tien skywe kaas na die bevelvoerder oor duisend en kyk na die welstand van jou broers en bring nuus terug van hulle,

19 want Sha’ul, hulle en al die manne van Yisra’el is in die vallei van Elah, besig om te veg teen die F’lishtyne.

20 Dawid het vroeg die volgende oggend opgestaan en die trop by ’n wagter gelos, die goed gevat en gegaan soos Yishai hom beveel het. Hy het by die sirkel van die kamp gekom terwyl die leër uitgegaan het in gevegsorde en die oorlogskreet uitgeskreeu het.

21 Yisra’el en die F’lishtyne het in gevegsordes opgetrek; leër teen leër.

22 Toe los Dawid sy pakgoed in die sorg van die oppasser en hardloop na die gevegsterrein om sy broers te groet.

23 Terwyl hy met hulle praat, let op, het die kampioen, die F’lishtyn vanaf Gat genaamd Golyat, opgekom uit die leër van die F’lishtyne en hy het hierdie selfde woorde gepraat en Dawid het dit gehoor.

24 Toe al die manne van Yisra’el die man sien, vlug hulle van hom af weg en was baie bang.

25 Die manne van Yisra’el het gesê: “Het julle hierdie man gesien wat opkom? Hy het sekerlik opgekom om Yisra’el uit te tart en dit sal wees dat die koning die man wat hom doodmaak sal verryk met groot rykdom en ook vir hom sy dogter gee en sy vader se huis in Yisra’el vry maak.

26 Toe praat Dawid met die manne wat by hom staan en sê: “Wat sal vir die man gedoen word wat hierdie F’lishtyn doodmaak en die smaad van Yisra’el af wegvat? Wie is hierdie onbesnede F’lishtyn dat hy die leërmagte van die lewende God uittart?”

27 Die manne antwoord hom volgens hierdie woorde en sê: “Só sal gedoen word vir die man wat hom doodmaak.”

28 Eli’av, sy oudste broer, het gehoor toe hy met die manne praat en Eli’av se woede het gebrand teen Dawid en hy het gesê: “Hoekom het jy afgekom en by wie het jy daardie paar skape in die wildernis gelos? Ek ken jou vermetelheid en die boosheid van jou hart, want jy het afgekom om die geveg te sien.”

29 Dawid sê egter: “Wat het ek nou gedoen? Was dit nie net ’n vraag nie?”

30 Toe draai hy van hom af weg na ’n ander en vra dieselfde ding en die manne het hom dieselfde geantwoord as vroeër.

31 Toe die woorde wat Dawid sê gehoor word, is dit aan Sha’ul vertel en hy het hom laat haal.

32 Dawid het vir Sha’ul gesê: “Laat geen man se binneste faal as gevolg van hom nie, u dienskneg sal gaan en teen hierdie F’lishtyn baklei.”

33 Toe antwoord Sha’ul vir Dawid: “Jy is nie in staat om teen hierdie F’lishtyn op te gaan om teen hom te veg nie, want jy is nog jonk terwyl hy ’n krygsman van sy jeug af is.”

34 Dawid sê egter vir Sha’ul: “U dienskneg het sy vader se kleinvee opgepas. Wanneer ’n leeu of ’n beer kom en ’n lam uit die trop uit wegvat,

35 dan gaan ek uit agter hom aan en val hom aan en red dit uit sy bek uit en as hy teen my opstaan, het ek hom aan sy baard gegryp, geslaan en hom doodgemaak.

36 U dienskneg het beide die leeu en die beer doodgemaak en hierdie onbesnede F’lishtyn sal soos een van hulle wees, aangesien hy die leër van die lewende God uitgetart het.”

37 Dawid het ook gesê: “יהוה wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hy sal my bevry uit die hand van hierdie F’lishtyn.” Sha’ul het vir Dawid gesê: “Gaan en mag יהוה by jou wees!”

38 Sha’ul het Dawid met sy klere aangetrek en ’n koper helmet op sy kop gesit en hom met pantser aangetrek.

39 Dawid het sy swaard bo-oor sy klere vasgegord en probeer loop omdat hy dit nooit probeer het nie. Dawid het vir Sha’ul gesê: “Ek kan nie hiermee gaan nie, want ek het dit nooit probeer nie.” Dawid het hulle uitgetrek.

40 Hy het sy staf in sy hand gevat en vir hom vyf gladde klippe uit die spruit gekies en dit in sy herderssak gesteek wat hy gehad het, in die slingersak en sy slinger was in sy hand en hy het die F’lishtyn genader.

41 Toe het die F’lishtyn nadergekom na Dawid toe met die skilddraer voor hom.

42 Toe die F’lishtyn kyk en vir Dawid, wat rooierig was met ’n aantreklike voorkoms, sien, het hy hom verag omdat hy nog jonk was.

43 Die F’lishtyn vra vir Dawid: “Is ek ’n hond dat jy na my toe kom met stokke?” Die F’lishtyn het Dawid vervloek by sy gode.

44 Die F’lishtyn sê ook vir Dawid: “Kom na my toe en ek sal jou vlees vir die voëls van die lug en die diere van die veld gee.”

45 Toe sê Dawid vir die F’lishtyn: “Jy kom na my toe met ’n swaard, ’n spies en ’n lans, maar ek kom na jou toe in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוהTzva’ot, die God van die leërs van Yisra’el, wat jy uitgetart het.

46 Vandag sal יהוה jou in my hand oorlewer en ek sal jou neerslaan en jou kop van jou af verwyder en ek sal vandag die lyke van die leër van die F’lishtyne vir die voëls van die lug en die wilde diere van die aarde gee sodat die hele aarde kan weet dat daar ’n God in Yisra’el is

47 en dat hierdie hele menigte mag weet dat יהוה nie deur swaard en spies bevry nie, want die geveg behoort aan יהוה en Hy sal julle in ons hand gee.”

48 Dit het gebeur toe die F’lishtyn opstaan en naderkom om Dawid te ontmoet dat Dawid vinnig na die gevegslyn hardloop om die F’lishtyn te ontmoet.

49 Dawid steek sy hand in sy sak en vat ’n klip daaruit en slinger dit en hy tref die F’lishtyn op sy voorkop en die klip sink in sy voorkop in dat hy op sy gesig teen die grond val.

50 So het Dawid oor die F’lishtyn die oorhand gekry met ’n slinger en ’n klip en hy het die F’lishtyn getref en hom doodgemaak, maar daar was geen swaard in Dawid se hand nie.

51 Toe het Dawid gehardloop en oor die F’lishtyn gaan staan en sy swaard gevat, dit uit sy skede getrek en hom doodgemaak en sy kop daarmee afgekap. Toe die F’lishtyne sien dat hulle kampioen dood is, het hulle gevlug.

52 Die manne van Yisra’el en Y’hudah het opgestaan, geskreeu in vreugde en die F’lishtyne agtervolg tot by die vallei en tot by die poorte van `Ekron. Die gevalle F’lishtyne het langs die pad na Sha’arayim gelê, selfs tot by Gat en `Ekron.

53 Die seuns van Yisra’el het teruggekeer van agtervolging van die F’lishtyne en hulle kamp geplunder.

54 Dawid het die kop van die F’lishtyn gevat en dit na Yerushalayim toe gebring, maar sy wapens in sy tent gesit.

55 Toe Sha’ul Dawid sien uittrek teen die F’lishtyn, sê hy vir Avner, die bevelvoerder van die leër: “Avner, wie se seun is díé jongman?” Avner antwoord: “By u lewe, o koning, ek weet nie!”

56 Die koning sê: “Vind uit wie se seun die jongman is.”

57 Toe Dawid terugkom nadat hy die F’lishtyn doodgemaak het, het Avner hom gevat en hom voor Sha’ul gebring, met die kop van die F’lishtyn in sy hand.

58 Sha’ul vra vir hom: “Wie se seun is jy, jongman?” Dawid antwoord: “Die seun van u dienskneg, Yishai, die Beit-Legemiet.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31