1 Daar was ’n man van Binyamin met die naam van Kish, die seun van Avi’el, die seun van Tz’ror, die seun van B’khorat, die seun van Afiag, ’n Binyaminiet, ’n magtige man van dapperheid.
2 Hy het ’n seun gehad met die naam van Sha’ul, ’n keur jongman en aantreklik, daar was onder die seuns van Yisra’el geeneen meer aantreklik as hy nie; van sy skouers af op was hy langer as enige van die mense.
3 Die donkies van Kish, die vader van Sha’ul, was weg. Kish het vir Sha’ul gesê: “Vat nou een van die diensknegte saam met jou en staan op, gaan soek na die donkies.”
4 Hy het deur die bergland van Efrayim en deur die land van Shalishah gegaan, maar hulle nie gekry nie. Toe gaan hulle deur die land Sha’alim, maar daar was niks nie. Toe gaan hy deur die land van Binyamin, maar hulle het niks gekry nie.
5 Toe hulle by die land van Tzuf kom, sê Sha’ul aan die dienskneg wat by hom was: “Kom, laat ons teruggaan, anders hou my vader op bekommerd wees oor die donkies en word angstig oor ons.”
6 Hy sê vir hom: “Let nou op, daar is ’n man van God in hierdie stad en die man word geëer; alles wat hy sê kom sekerlik waar. Laat ons nou daarheen gaan, miskien kan hy ons vertel aangaande die reis wat ons onderneem het.”
7 Toe vra Sha’ul vir sy dienskneg: “As ons egter gaan, let op, wat sal ons vir die man bring, want die brood in ons sakke is op en daar is nie ’n geskenk om vir die man van God te bring nie; wat het ons?”
8 Die dienskneg het Sha’ul weer geantwoord en gesê: “Let op, ek het nog ’n kwart van ’n sikkel silwer by my; ek sal dit vir die man van God gee en hy sal ons oor ons pad inlig.”
9 Vroeër, as ’n man in Yisra’el gegaan het om God te raadpleeg, het hy gesê: “Kom, laat ons na die siener gaan,” want hy wat nou ’n profeet genoem word, is vroeër ’n siener genoem.
10 Toe sê Sha’ul vir sy dienskneg: “Goed gesê, laat ons gaan.” Hulle gaan na die stad toe waar die man van God is.
11 Terwyl hulle die opdraande na die stad opgaan, kom hulle meisies teë wat uitgaan om water te trek en vra vir hulle: “Is die siener hier?”
12 Hulle antwoord hul en sê: “Hy is, kyk, voor jou. Maak nou gou, want hy het vandag in die stad gekom, want die mense het vandag ’n offer op die hoë plek gebring.
13 Sodra julle die stad ingaan, sal julle hom vind net voordat hy opgaan na die hoë plek om te eet, want die mense eet nie voordat hy kom nie omdat hy die offer moet seën; daarna eet die genooides. Gaan daarom nou op, want julle sal hom nou vind.”
14 Hulle het opgegaan na die stad toe. Toe hulle in die stad ingaan, let op, het Sh’mu’el uitgekom na hulle toe om op te gaan na die hoë plek toe.
15 ’n Dag voor Sha’ul se koms het יהוה aan Sh’mu’el geopenbaar en gesê:
16 “Ongeveer hierdie tyd môre sal Ek ’n man uit die land van Binyamin na jou toe stuur en jy moet hom salf as ’n heerser oor My volk Yisra’el en hy sal My volk bevry uit die hand van die F’lishtyne, want Ek het My volk in ag geneem omdat hulle geroep na My gekom het.
17 Toe Sh’mu’el vir Sha’ul sien, het יהוה vir hom gesê: “Let op, die man van wie Ek met jou gepraat het! Hierdie een sal heers oor My mense.”
18 Toe het Sha’ul nadergekom na Sh’mu’el in die poort en gevra: “Wys my asseblief waar die huis van die siener is?”
19 Sh’mu’el het Sha’ul geantwoord en gesê: “Ek is die siener! Gaan op voor my uit na die hoë plek, want julle sal vandag saam met my eet en ek sal jou in die oggend vroeg laat gaan en alles wat in jou gedagtes is, sal ek vir jou vertel.
20 Wat die donkies betref wat drie dae gelede weg is, moenie aan hulle dink nie, want hulle is gevind en vir wie is alles wat begeerlik is in Yisra’el? Is dit nie vir jou en jou vader se hele huishouding nie?”
21 Sha’ul antwoord: “Is ek nie ’n Binyaminiet, uit die kleinste van die stamme van Yisra’el en my familie die geringste uit al die families van die stam van Binyamin nie? Waarom praat u dan so met my?”
22 Toe vat Sh’mu’el vir Sha’ul en sy dienskneg en vat hulle in die saal in en gee vir hulle ’n plek aan die hoof van die genooides, wat omtrent dertig man was.
23 Sh’mu’el het vir die kok gesê: “Gee die gedeelte wat ek vir jou gegee het, waarvan ek vir jou gesê het: ‘Sit dit eenkant’.”
24 Toe het die kok die boud, met wat daarop was, opgetel en dit voor Sha’ul neergesit. Sh’mu’el het gesê: “Hier is wat opsy gesit is, voor jóú neergesit! Eet, want dit is vir jou bewaar tot die bestemde tyd vandat ek gesê het dat ek die mense uitnooi.” So het Sha’ul dan dié dag saam met Sh’mu’el geëet.
25 Toe hulle vanaf die hoë plek afkom in die stad in, praat hy met Sha’ul op die dak.
26 Hulle het vroeg opgestaan en teen dagbreek het Sh’mu’el na Sha’ul op die dak geroep en gesê: “Staan op sodat ek jou kan wegstuur.” Sha’ul het opgestaan en beide hy en Sh’mu’el het uitgegaan in die straat in.
27 Soos hulle afgaan na die kant van die stad, sê Sh’mu’el vir Sha’ul: “Sê vir die dienskneg dat hy voor ons uit moet gaan en aangaan, maar staan jy nou eers stil dat ek die boodskap van God aan jou kan verkondig.”