1 Dawid het daarvandaan weggegaan en ontvlug na die grot van `Adullam en toe sy broers en sy vader se hele huishouding dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom toe.
2 Elkeen wat in benoudheid was, elkeen wat in skuld was en elkeen wat ontevrede was, het by hom bymekaargekom en hy het bevelvoerder oor hulle geword. Daar was omtrent vier honderd man by hom gewees.
3 Dawid gaan toe van daar af na Mitzpeh in Mo’av en sê vir die koning van Mo’av: “Laat my vader en my moeder asseblief by julle bly totdat ek weet wat God vir my wil doen.”
4 Toe los hy hulle by die koning van Mo’av en hulle het by hom gebly al die tyd wat Dawid in die vesting was.
5 Die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Moenie in die vesting bly nie; gaan weg en gaan in die land Y’hudah in.” Dawid het weggegaan en in die woud van Heret ingegaan.
6 Toe het Sha’ul gehoor dat Dawid en die manne wat by hom was, gevind is. Sha’ul het by Giv’ah op die hoogte onder die tamariskboom gesit met sy spies in sy hand en al sy diensknegte het rondom hom gestaan.
7 Sha’ul het vir sy diensknegte wat rondom hom gestaan het, gesê: “Luister nou, o Binyaminiete: sal die seun van Yishai ook vir julle almal lande en wingerde gee, julle almal aanstel as bevelvoerders oor duisende en bevelvoerders oor honderde?