16 Hierdie ding wat jy gedoen het, is nie goed nie! So waar as יהוה leef, almal van julle verdien die dood omdat julle nie julle meester, die gesalfde van יהוה, bewaak het nie. Kyk nou, waar is die spies van die koning en die waterkruik wat by sy kop was!”
17 Toe herken Sha’ul Dawid se stem en vra: “Is dit jou stem, my seun Dawid?” Dawid sê: “Dit is my stem, my meester, die koning!”
18 Hy het ook gesê: “Waarom agtervolg my meester dan sy dienskneg? Want wat het ek gedoen of watter boosheid is in my hand?
19 Laat my meester, die koning asseblief luister na die woorde van sy dienskneg. As יהוה u teen my aangehits het, laat Hom ’n offer aanvaar, maar as dit mense is: vervloek is hulle voor die Teenwoordigheid van יהוה, want hulle het my vandag uitgedryf sodat ek geen verbintenis met die erfenis van יהוה het nie deurdat hulle sê: “Gaan, dien ander gode!”
20 Nou dan, moenie my bloed op die grond laat val ver van die Teenwoordigheid van יהוה nie, want die koning van Yisra’el het uitgekom om een vlooi te soek, net soos ’n man ’n patrys in die berge agtervolg.”
21 Toe sê Sha’ul: “Ek het gesondig; kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou nie weer kwaad aandoen nie omdat my lewe vandag kosbaar was in jou oë; let op, ek het dwaas gehandel en ’n groot fout gemaak.”
22 Dawid antwoord: “Let op, die spies van die koning! Laat nou een van die jongmanne oorkom en dit haal.