1 יהוה het vir Moshe gesê: “Gaan na Farao toe, want Ék het sy wil, emosie en verstand, asook die wil, emosie en verstand van sy diensknegte verhard sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan uitvoer
2 en sodat jy voor die ore van jou seun en jou kleinseun kan vertel hoe Ek ’n bespotting van die Mitzrayiete gemaak het en van My tekens wat Ek onder hulle gebring het sodat julle kan weet dat Ek יהוה is.”
3 Moshe en Aharon het na Farao toe gegaan en vir hom gesê: “So sê יהוה, die God van die Hebreërs: ‘Hoe lank sal jy weier om jou voor My te verneder? Laat My volk gaan dat hulle My kan dien,
4 of anders, as jy weier om My volk te laat gaan, let op, môre sal Ek sprinkane in jou gebied inbring
5 en hulle sal die oppervlakte van die grond bedek sodat niemand die land sal kan sien nie en hulle sal die res van wat oorgebly het, wat vir julle van die hael oorgebly het en al die bome wat vir julle in die veld opgroei, opeet.
6 Jou huise, die huise van al jou diensknegte en die huise van al die Mitzrayiete sal vol van hulle wees; soos jou vaders en die vaders van jou vaders nie gesien het van die dag af dat hulle op die aarde is, tot vandag toe nie.’” Hy het omgedraai en van Farao af weggegaan.
7 Farao se diensknegte vra vir hom: “Hoe lank sal die man vir ons ’n strik wees? Laat die manne gaan dat hulle יהוה, hulle God, kan dien. Weet u nog nie dat Mitzrayim vernietig is nie?”