Eksodus 27 PWL

1 Jy moet ook die altaar van akasiahout maak; die lengte moet vyf el wees en die breedte vyf el; die altaar moet vierkantig wees en sy hoogte drie el.

2 Jy moet sy horings op sy vier hoeke maak; sy horings moet saam met dit, uit een stuk wees en jy moet dit met koper oortrek.

3 Jy moet ook sy potte maak om die as te verwyder, asook sy grawe, skottels, vleishake en vuurpanne. Al dié toebehore moet jy van koper maak.

4 Jy moet ’n loopplank daarvoor maak; ’n netwerk van koper. Aan die loopplank moet jy vier koper ringe maak, aan die vier hoeke.

5 Jy moet dit onder die rand van die altaar vasmaak, onderaan sodat die loopplank tot by die helfte van die altaar kom.

6 Jy moet ook pale vir die altaar maak, pale van akasiahout en oorgetrek met koper.

7 Die pale moet in die ringe gesteek word sodat die pale aan altwee kante van die altaar is om dit te dra.

8 Jy moet dit hol maak, van planke. Soos dit vir jou op die berg gewys is, net so moet hulle dit maak.

9 Jy moet ook die voorhof van die tabernakel maak. Vir die suidekant, moet daar vir die voorhof behangsels wees van wit geweefde linne; die lengte vir die een kant moet honderd el wees

10 en sy twintig pilare met hulle twintig voetstukke moet koper wees; die hake en die ringe van die pilare moet van silwer wees.

11 Net so moet daar ook aan die noordekant, in die lengte, behangsels wees, honderd el lank en sy twintig pilare met hulle twintig voetstukke van koper. Die hake en die ringe van die pilare moet van silwer wees.

12 In die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet daar vyftig el behangsels wees en sy tien pilare en hulle tien voetstukke.

13 Die breedte van die voorhof aan die oostekant, waar die son opkom, is vyftig el.

14 Vyftien el behangsels vir die een kant, met hulle drie pilare en hulle drie voetstukke

15 en vir die ander kant vyftien el behangsels, met hulle drie pilare en hulle drie voetstukke.

16 Die ingang van die voorhof moet ’n behangsel van twintig el wees, van blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne, die produk van kunstige weefwerk; met vier pilare en hulle vier voetstukke.

17 Al die pilare rondom die voorhof moet silwer ringe en silwer hake hê en voetstukke van koper.

18 Die lengte van die voorhof moet honderd el wees en die breedte vyftig by vyftig en die hoogte vyf el, van wit geweefde linne, saam met voetstukke van koper.

19 Al die bybehore van die tabernakel, vir al sy dienste, al sy penne en al die penne van die voorhof, moet van koper wees.

20 Jy moet die seuns van Yisra’el beveel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die lig moet bring, om voortdurend ’n brandende lamp te hê.

21 In die Tent van Ontmoeting, buitekant die verdelingsgordyn wat voor die Getuienis is, moet Aharon en sy seuns dit regmaak om voor die Teenwoordigheid van יהוה te brand, van die aand tot die oggend toe. Dit sal vir die seuns van Yisra’el ’n ewige instelling in hulle geslagte wees.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40