1 Moshe het sy skoonvader Yitro, die nie-Levitiese priester van Midyan, se kleinvee opgepas. Hy het die kleinvee na die westekant van die wildernis gedryf en by Horev, die berg van God, gekom.
2 Die Engel van יהוה het aan hom in ’n brandende vuur uit die middel van ’n doringbos verskyn. Hy het gekyk en let op, die doringbos het gebrand met vuur en tog het die doringbos nie uitgebrand nie!
3 Moshe sê: “Ek sal afdraai en kyk na hierdie wonderlike verskynsel, waarom die doringbos nie opbrand nie.”
4 Toe יהוה sien dat hy afgedraai het om te kyk, roep God na hom vanuit die doringbos en sê: “Moshe, Moshe!” Hy antwoord: “Hier is ek.”
5 Hy sê: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waar jy staan, is afgesonderde grond.”
6 Verder sê Hy: “Ek is die God van jou vader, die God van Avraham, die God van Yitz’gak en die God van Ya’akov.”Mat 22:32; Mar 12:26; Luk 20:37; Hand 3:13 Moshe het sy gesig weggesteek, want hy was bang om na God te kyk.
7 יהוה sê: “Ek het aandag gegee aan die onderdrukking van My volk wat in Mitzrayim is en Ek het hulle uitroep oor hulle taakdrywers gehoor, want Ek is bewus van hulle smarte.
8 Ek het afgekom om hulle uit die hand van die Mitzrayiete te bevry en hulle te laat opgaan uit daardie land na ’n goeie en uitgestrekte land, na ’n land wat vloei met melk en heuning, na die blyplek van die Kena’aniete, Hittiete, Emoriete, P’riziete, Hiviete en Y’vusiete.
9 Nou, let op, die uitroepe van die seuns van Yisra’el het tot by My gekom en Ek het ook die onderdrukking gesien waarmee die Mitzrayiete hulle onderdruk.
10 Kom daarom nou en Ek sal jou na Farao stuur sodat jy My volk, die kinders van Yisra’el, uit Mitzrayim kan uitbring.”Hand 7:34
11 Moshe sê vir God: “Wie is ek dat ek na Farao sal gaan en dat ek die kinders van Yisra’el uit Mitzrayim sal uitbring?”
12 Hy antwoord: “Ek sal sekerlik by jou wees en dit sal vir jou ’n teken wees dat Ek jou gestuur het: wanneer jy die volk uit Mitzrayim uitgebring het, sal julle יהוה op hierdie berg aanbid.”
13 Moshe sê vir God: “Let op, as ek by die seuns van Yisra’el kom en vir hulle sê: ‘Die God van julle vaders het my na julle toe gestuur’ en hulle my vra: ‘Wat is Sy Naam (Karakter en Outoriteit)?’ Wat sal ek hulle antwoord?”
14 God sê vir Moshe: “אהיה אשר אהיה (EK IS, WAS, SAL WEES WIE EK IS, WAS, SAL WEES).” Ook sê Hy: “So moet jy die seuns van Yisra’el antwoord: אהיה (EK IS, WAS, SAL WEES) het my na julle toe gestuur.”Mar 14:62; Yog 4:26; Open 1:4,8
15 Verder sê God vir Moshe: “Dit moet jy vir die seuns van Yisra’el sê: ‘יהוה, die God van julle vaders, die God van Avraham, die God van Yitz’gak en die God van Ya’akov, het my na julle toe gestuur.’Hand 3:13 Dit is My ewige Naam (Karakter en Outoriteit) en dit is hoe van My gepraat word van geslag tot geslag.
16 Gaan en maak die oudstes van Yisra’el bymekaar en sê vir hulle: ‘יהוה, die God van julle vaders, die God van Avraham, Yitz’gak en Ya’akov, het aan my verskyn en gesê: Ek gee sekerlik vir julle om en het gesien wat word aan julle in Mitzrayim gedoen
17 en Ek het besluit Ek wil julle uit die ellende van Mitzrayim laat opgaan na die land van die Kena’aniete, Hittiete, Emoriete, P’riziete, Hiviete en Y’vusiete, na ’n land wat vloei met melk en heuning.’
18 Hulle sal na jou luister. Jy en die oudstes van Yisra’el moet na die koning van Mitzrayim gaan en julle moet vir hom sê: ‘יהוה, die God van die Hebreërs, het ons ontmoet; laat ons asseblief nou drie dagreise ver die wildernis intrek en aan יהוה, ons God, offer.’
19 Ek weet dat die koning van Mitzrayim julle nie sal laat gaan nie, behalwe deur ’n sterk hand;
20 daarom sal Ek My hand uitsteek en Mitzrayim met al My wonders slaan wat Ek daarin sal doen en daarna sal hy julle laat gaan.
21 Ek sal aan hierdie volk guns gee in die oë van die Mitzrayiete en dit sal gebeur dat wanneer julle gaan, julle nie met leë hande sal gaan nie,
22 maar elke vrou moet van haar buurvrou en van haar wat in haar huis besoek, silwer en goue voorwerpe en klere vra en julle moet dit op julle seuns en dogters sit en so dit van die Mitzrayiete afvat.”