Eksodus 30 PWL

1 Jy moet ’n altaar maak om reukwerk op te brand. Jy moet dit van akasiahout maak.

2 Sy lengte moet ’n el wees en sy breedte ’n el; dit moet vierkantig wees. Sy hoogte is twee el. Sy horings moet uit dieselfde stuk wees.

3 Jy moet die bokant, die sykante rondom en die horings met suiwer goud oortrek. Maak ook daarvoor ’n goue rand rondom.

4 Jy moet ook twee goue ringe daarvoor maak onderkant die rand, aan weerskante, aan die twee sykante. Hulle moet dien as houers vir pale om dit mee te dra.

5 Maak die pale van akasiahout en trek dit met goud oor.

6 Sit dit dan voor die verdelingsgordyn wat voor die Ark van die Getuienis is, voor die Toedekking wat oor die Getuienis is, waar Ek met jou sal ontmoet.

7 Aharon moet elke oggend reukwerk van speserye daarop brand; wanneer hy die lampe doof, moet hy dit aan die brand steek

8 en wanneer Aharon teen sonsondergang die lampe opsteek, moet hy dit brand as ’n voortdurende reukwerk voor die Teenwoordigheid van יהוה; reg deur julle geslagte.

9 Julle mag geen vreemde reukwerk of brandoffer of graanoffer daarop bring nie. Julle mag ook geen drankoffer daarop uitgooi nie.

10 Aharon moet, een maal per jaar, versoening op die horings doen; met die bloed van die sondoffer van versoening moet hy een maal per jaar daarvoor versoening doen reg deur julle geslagte. Dit is heeltemal afgesonder tot יהוה.”

11 יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

12 “As jy die volle getal van die seuns van Yisra’el opneem om hulle te tel, moet elke man loskoopgeld vir sy lewe aan יהוה gee wanneer hulle getel word sodat daar geen plaag onder hulle sal wees wanneer hulle getel word nie.

13 Dit is wat elke man van hulle moet gee wat na die geteldes oorgaan: ’n halfsikkel volgens die sikkel van die Afgesonderde plek; die sikkel is twintig gera. Die halfsikkel is ’n bydrae aan יהוה.

14 Elkeen van twintig jaar en ouer, wat oorgaan na die geteldes, moet die bydrae aan יהוה gee.

15 Die ryke moenie meer en die arme moenie minder as ’n halfsikkel gee, wanneer hulle die bydrae, om vir julle siele versoening te doen, aan יהוה gee, nie.

16 Vat die versoeningsgeld van die seuns van Yisra’el en gee dit vir die dienswerk van die Tent van Ontmoeting sodat dit ’n herinnering voor die Teenwoordigheid van יהוה kan wees vir die seuns van Yisra’el, tot versoening vir julle lewens.”

17 יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

18 “Jy moet ook ’n kom van koper, met sy voetstuk van koper, maak om mee te was. Jy moet dit tussen die Tent van Ontmoeting en die altaar sit en water daarin gooi

19 sodat Aharon en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan was.

20 Wanneer hulle ingaan in die Tent van Ontmoeting, of as hulle naby die altaar kom, om te bedien, om ’n offer te brand en in rook te laat opgaan tot יהוה, moet hulle met water was sodat hulle nie sterf nie.

21 So moet hulle hul hande en voete was sodat hulle nie sterf nie en dit sal vir hulle ’n ewige instelling wees, vir hom en vir sy nageslag in hulle geslagte.”Yog 13:10

22 יהוה het verder met Moshe gepraat en gesê:

23 “Vat vir jouself van die beste speserye: vyf honderd sikkels vloeibare mirre en die helfte soveel, twee honderd en vyftig sikkels, soet geurige kaneel en twee honderd en vyftig sikkels soet geurige kalmoes

24 en vyf honderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die Afgesonderde plek en ’n hin olyfolie

25 en maak daarvan afgesonderde salfolie, ’n salfmengsel soos ’n salfmenger dit maak; dit sal ’n afgesonderde salfolie wees.

26 Daarmee moet jy die Tent van Ontmoeting salf, die Ark van die Getuienis,

27 die tafel met al sy bybehore, die kandelaar met sy bybehore, die reukaltaar,

28 die brandofferaltaar met al sy bybehore en die kom met sy voetstuk.

29 Jy moet hulle afsonder sodat hulle heeltemal afgesonderd kan wees. Wat ook al aan hulle raak, is afgesonder.Spr 30:5-6

30 Jy moet Aharon en sy seuns ook salf en hulle afsonder om My as priesters te dien.

31 Jy moet met die seuns van Yisra’el praat en sê: ‘Hierdie moet vir My ’n afgesonderde salfolie wees reg deur julle geslagte.

32 Dit mag nie op ’n mens se vlees uitgegooi word nie; julle mag ook nie volgens dieselfde voorskrif nog maak nie. Dit is afgesonder en dit moet vir julle afgesonder wees.

33 Wie ook al so iets meng of enige daarvan aan ’n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote afgesny word.’”

34 יהוה het ook vir Moshe gesê: “Vat speserye: storaksgom, naeltjies en galbanum en ook suiwer wierook saam met die speserye; alles in gelyke hoeveelhede

35 en maak daar reukwerk van, ’n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout gemeng, suiwer en afgesonder.

36 Vryf ’n gedeelte daarvan heeltemal fyn en sit ’n deel daarvan neer voor die Getuienis in die Tent van Ontmoeting, waar Ek met jou sal ontmoet. Dit sal heeltemal afgesonderd wees vir julle.

37 Julle mag nie vir julleself van die reukwerk wat jy maak, na dieselfde voorskrif, maak nie. Dit moet vir julle afgesonder wees tot יהוה.

38 Wie ook al enige van dieselfde maak om as parfuum te gebruik, moet uit sy volksgenote afgesny word.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40