1 Die arm man wat in sy integriteit leef is beter as ’n ryk man wat in boosheid leef.
2 Hy wat nie kennis van sy eie lewe het nie, dit is nie goed vir hom nie en hy wat haastig is met sy voete, sondig.
3 Die dwaasheid van ’n man bederf sy lewe, hy word in sy binneste kwaad vir יהוה.
4 Rykdom maak baie vriende, maar die arm man word deur sy vriende in die steek gelaat.
5 ’n Valse getuie sal nie ongestraf bly nie en hy wat leuens praat, sal nie vrykom nie.
6 Baie dien in die teenwoordigheid van ’n prins, hy gee selfs geskenke vir die wat boos is.
7 Al die broers van die arme haat hom; ook sy vriende gaan ver van hom af weg! Hy wat moeilikheid maak met sy woorde is oneg!
8 Hy wat wysheid verkry, het sy eie lewe lief; hy wat insig bewaar, sal die goeie vind.
9 ’n Valse getuie bly nie ongestraf nie en hy wat leuens praat, word vernietig.
10 Om in luuksheid te leef, pas nie by ’n dwaas nie; nog minder is dit paslik vir ’n dienskneg om oor prinse te heers!
11 Die intelligensie van ’n mens word gewys deur sy geduld, sy eer en lof wanneer sy oortredinge verwyder word.
12 Die koning se woede is soos die gebrul van ’n leeu, maar sy guns is soos dou op die plante.
13 ’n Dwase seun is ’n oneer vir sy vader en die stryery van ’n vrou is soos ’n aanhoudende gedrup.
14 Huis en rykdom is die erfenis vanaf die vaders, maar ’n vrou word aan die man gegee vanaf יהוה.
15 Luiheid laat jou in ’n diep slaap val en ’n trotse man sal honger ly.
16 Hy wat die opdragte uitvoer, bewaar sy eie lewe, maar hy wat die regte lewenswyse verwerp, sal sterf.Ya’a 1:27
17 Hy wat omgee vir die armes, is ’n metgesel van יהוה en hy sal beloon word volgens sy dade.
18 Tugtig jou seun terwyl daar hoop is en laat jou lewe nie sy oneer deel nie.
19 ’n Man van groot woede sal skade ly; hoe meer vyandig hy is hoe meer vergroot hy sy las.
20 Luister na raad en neem dissipline aan sodat jy wys kan wees in jou lewenswyse.
21 Daar is baie planne in ’n man se verstand, nogtans sal die raad van יהוה vasstaan.
22 Die begeerte van ’n mens is om goed te doen en ’n arm man is beter as ’n ryk man wat lieg.
23 Respekvolle vrees vir יהוה lei tot lewe en hy wat daarmee tevrede is, sal voortbestaan, hy sal nie besoek word deur boosheid nie.
24 Die luiaard steek sy hande weg binne sy kleed en sal nie eens weer probeer om hulle na sy mond te bring nie.
25 Wanneer ’n bose persoon geslaan word, neem die wyse kennis en wanneer ’n wyse tereg gewys word, sal hy insig verkry.
26 Hy wat sy vader plunder en sy moeder teleurstel, is ’n seun wat skande veroorsaak en bespotting bring.
27 Wag, my seun en gee ag op dissipline en moenie die woorde van kennis vergeet nie.
28 ’n Deugniet wat getuig, spot met die reg; die mond van die bose verslind hom.
29 Oordeel word voorberei vir hulle wat spot met die regverdige oordeel en slae vir dwase mense.