29 Omdat hulle bang was dat die skip op die rotse sou loop, het hulle gou vier ankers aan die agterkant van die skip uitgegooi. Toe het almal begin wag op die dagbreek.
30 ’n Paar matrose het besluit om stilletjies met die reddingsbootjie weg te kom. Hulle het die bootjie in die water laat sak en voorgegee dat hulle nog ankers in die water wou gaan uitsit.
31 Paulus het dadelik agtergekom waarmee hulle besig was en vir die Romeinse offisier en sy soldate gesê: “As hierdie mense nie aan boord bly nie, gaan ons dit nie oorleef nie.” Dié keer het die Romeinse offisier na Paulus geluister.
32 Hy het dadelik sy soldate beveel om al die toue wat die reddingsbootjie aan die skip vasgehou het, af te kap. Die bootjie het weggedryf.
33 Toe dit dag begin word, het Paulus almal aangemoedig om te eet. “Dit is nou die veertiende dag dat ons sonder kos klaarkom,” het hy gesê.
34 “Maar nou moet julle almal iets eet. Ons het krag nodig vir die laaste entjie land toe wat nog vir ons voorlê. “Moenie bekommerd wees nie. Nie een van julle sal iets oorkom nie. Daar sal nie eens ’n haartjie uit julle kop val nie.”
35 Daarna het Paulus self ’n stuk brood geneem. Nadat hy God voor almal gedank het, het hy begin eet.