19 Jy het inderdaad nou vir Edom verslaan en jy voel trots daarop. Wees tog nou tevrede daarmee en bly by die huis! Waarom wil jy nou moeilikheid maak wat vir jou en die mense van Juda net ongeluk kan bring?”
20 Amasia wou nie luister nie. Dit was God se plan. Hy wou hulle straf omdat hulle die gode van Edom vereer het.
21 Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg. Hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak.
22 Juda is deur Israel verslaan en die Judeërs het huis toe gevlug.
23 Joas het Amasia in Bet-Semes gevang en hom na Jerusalem toe gevat. Daar het hy ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek: omtrent 180 meter tussen die Efraimspoort en die Hoekpoort.
24 Hy het al die goud en silwer gevat wat hy kon kry, asook die waardevolle goed in die tempel wat deur Obed-Edom opgepas is en die goed in die paleis ook. Hy het dit alles, saam met die gyselaars wat hy gevang het, Samaria toe geneem.
25 Koning Amasia van Juda het ná koning Joas van Israel se dood nog vyftien jaar lank in Jerusalem regeer.