1 Terwyl ek nog so kyk, val my oog op die horison bokant die koppe van die wesens. Maar teen die horison was daar iets wat soos die sitplek van ’n koning gelyk het; dit was van die helderste blou kleur waaraan ’n mens kan dink.
2 Toe sê die Here vir die man wat in sy huis diens gedoen het: “Stap tussen die wiele in wat onder die wesens draai en vat daar ’n hele hand vol van die gloeiende kole. Jy moet hierdie kole oor die stad Jerusalem uitstrooi.” Die man het dit toe gedoen terwyl ek hom dophou.
3 Die wesens het aan die suidekant van die huis van die Here gestaan toe die man onder hulle wiele ingestap het. Dit het gelyk of ’n wolk die huis van die Here vul toe die Here daar verskyn het.
4 Toe het die teenwoordigheid van die Here opgestyg bokant die vier wesens. Die Here het na die deur van sy huis toe gegaan. Die hele huis was vol van die Here se krag. Selfs buitekant die huis van die Here het dit geblink toe die Here daar verskyn het.
5 Die vlerke van die wesens wat beweeg het, het ’n oorverdowende geraas gemaak wat soos die stem van die Here geklink het. ’n Mens kon die geraas tot buite die huis van die Here hoor.