Esegiël 46 DB

Offers aan God

1 So sê die Here, Esegiël se God: “Die ingang aan die oostekant van my huis moet vir ses dae gesluit wees. Maar op die sewende dag, wat vir My opsy gesit is en waarop julle moet rus, en op dae wat julle feesvier, moet die ingang oopgesluit word.

2 Dan mag die regeerder van die volk by hierdie ingang ingaan. Hy moet by die deur gaan staan. Die mense wat in die huis van die Here werk, moet die offers wat hy gebring het, gaan offer. Hy staan daar en aanbid die Here in die ingang. Daarna moet hy omdraai en weer uitgaan op dieselfde pad waarmee hy ingekom het. Die ingang moet nie gesluit word nie totdat die son sak.

3 Die mense van die land moet ook só maak. Hulle moet op die feesdae voor hierdie ingang kom staan en die Here op die sewende dag aanbid.

4 “Elke sewende dag, wat vir My eenkant gesit word, moet die regeerder van die land ’n offer bring van ses lammetjies en een ram. Hierdie diere mag nie gebreklik wees nie.

5 Hy bring ook sestien kilogram meel wat saam met die ram voor My verbrand moet word. Hy kan self kies hoeveel meel hy saam met elke lammetjie wil verbrand. Hy moet ook vier liter olyfolie by elke sestien kilogram meel sit.

6 Op die fees wat julle vier omdat dit nuwemaan is, moet hy ’n bul as offer bring. Hy moet ook ses lammers en ’n skaapram bring. Geen dier mag gebreklik wees nie.

7 Saam met die offers moet hy meel bring, sestien kilogram meel saam met die bul en die ram. En soveel meel as wat hy kan bekostig saam met die lammers. En vir elke sestien kilogram meel wat hy bring, moet hy vier liter olyfolie bysit.

8 “As die regeerder na my huis toe kom, moet hy dieselfde ingang gebruik. Hy moet ook weer daar uitgaan.

9 Maar wanneer die mense wat in die land bly op dae wat julle feesvier in my huis wil inkom, moet hulle deur die ingang aan die noordekant gaan. Daar moet hulle My aanbid. Dan moet hulle weer by die uitgang aan die suidekant uitgaan. En dié mense wat by die suidekant ingekom het, moet weer by die noordekant uitgaan. Niemand mag by dieselfde ingang uitgaan as waar hy ingekom het nie. Almal moet só maak.

10 Dieselfde tyd as die mense ingaan, moet die regeerder van die land ook ingaan. Wanneer hulle inkom, moet hy ook in my huis inkom. En wanneer hulle uitgaan, moet hy uitgaan.

11 “Op die dae wat julle feesvier, moet julle sestien kilogram meel saam met ’n bul en ’n ram offer. Dan kan julle soveel meel vir die offer gee as wat julle wil as julle lammetjies as offers bring. En vir elke sestien kilogram meel wat geoffer word, moet daar vier liter olyfolie gebring word.

12 Wanneer die regeerder vrywillig op ander tye ’n offer wil bring, moet die mense wat in my huis werk, die ingang aan die oostekant vir hom oopsluit. Dan moet hy dieselfde doen as wat hy op die sewende dag of dae wat julle feesvier, doen. As hy klaar is, moet hy weer by die ingang aan die oostekant uitgaan. Die mense wat daar werk, moet dan die ingang sluit.

13 “Elke môre moet julle ’n jaaroud ram voor My op die altaar verbrand. Die dier mag nie gebreklik wees nie. Julle mag nie een môre oorslaan nie.

14 Julle moet ook elke môre drie kilogram meel offer, saam met een en ’n derde liter olie om die meel mee klam te maak. Julle mag nie een môre oorslaan nie.

15 Julle moet elke môre die lam en die meel en die olie bring om op die altaar te offer.”

16 So sê die Here, die God van Esegiël: “Wanneer die regeerder ’n stuk van sy grond aan een van sy seuns gee, word dit die seun se eiendom. As die seun doodgaan, moet sy kinders dit erf.

17 Maar wanneer die regeerder ’n stuk van sy grond vir iemand gee wat vir hom werk, is dit anders. Hierdie persoon kry die grond tot die jaar wat Ek bepaal het dat alle mense se skuld afgeskryf word. Daardie jaar word die grond weer die eiendom van die regeerder se familie. As die koning doodgaan, erf sy kinders daardie grond.

18 Die regeerder mag nie sy posisie misbruik en sommerso grond van sy volk afvat nie. ’n Mens se grond is die besitting van sy kinders ná sy dood. Ek wil nie hê dat my volk hulle grond moet verloor en dat hulle moet rondval om te probeer oorleef nie.”

Die kombuis van die huis van die Here

19 Die man wat die meetwerk in die huis van die Here moes doen, bring my toe by die ingang aan die noordekant. Dit is die ingang na die vertrekke waar die mense bly wat in die Here se diens is. Aan die westekant van hierdie kamers was daar ’n plek agter die gebou.

20 Die man sê toe vir my: “Hier is die plek waar die priesters die vleis moet gaarmaak van die offers wat die mense bring. Hier moet hulle ook die meel gaarmaak saam met die olie. Hulle moet dit hier eenkant doen sodat hulle nie die offers naby die volk bring nie, want mense kan doodgaan as hulle met die offers in aanraking kom omdat die offers aan die Here behoort.”

21 Daarna bring die man my toe na die buitekant van die huis van die Here, in die voorhof. Hy vat my toe by die vier hoeke van die voorhof verby. In elke hoek van die voorhof was daar ’n kleiner voorhof.

22 Hierdie kleiner voorhowe was elkeen twintig meter lank en vyftien meter breed. Daar het rook by hulle uitgekom.

23 Daar was ’n muur om elkeen van die voorhowe. Aan die binnekant van die kleiner voorhowe was daar plekke gebou waarop ’n mens kon vuur maak.

24 Die man het vir my gesê: “Hier maak die mense wat in my huis werk, die vleis gaar wat die volk vir die Here bring.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48