Esegiël 20 DB

Israel is in opstand teen My

1 Dit was die veertiende Augustus 591 v.C. in die sewende jaar dat koning Jojagin ’n gevangene in ’n vreemde land was. Op daardie dag het party van my volk se leiers my kom vra of ek nie vir hulle ’n boodskap van die Here af het nie. Hulle het voor my gesit en gewag dat ek hulle moet antwoord.

2 Toe het die Here met my gepraat en vir my gesê:

3 “Mens, jy moet vir die leiers van Israel die volgende boodskap gee. Sê vir hulle: Julle waag dit om My te vra om julle te help! So seker as wat Ek leef, Ek sal vir julle niks sê en julle glad nie help nie. Dit is die woord van die Here, die God van Esegiël, vir julle.

4 “Mens, kyk jy na hierdie klomp mense. Kyk na al die afskuwelike dinge wat hulle aanhou doen het. Vertel vir hulle dat hulle oupas en oumas, en hulle oupagrootjies en oumagrootjies ook aangehou het om slegte dinge te doen.

5 Gaan sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê oor hulle: Ek het Israel gekies om my volk te wees. En Ek het Myself aan julle bekendgemaak toe julle nog gevangenes in Egipte was. Daar in Egipte het Ek belowe dat Ek julle God sal wees.

6 Toe het Ek belowe dat Ek Israel en haar mense uit Egipte sal weglei. Ek het gesê Ek sal hulle na ’n land lei wat Ek vir hulle gemaak het. Ek het gesê dit sal ’n goeie land wees, ’n land wat oorloop van goeie dinge. Die land wat Ek vir hulle belowe het, is die beste land op aarde.

7 Toe het Ek vir hulle gesê: Wat Ek van julle vra, is dat julle julle afgode moet laat staan. Moenie julleself verder verneder om Egipte se afgodsbeelde te dien nie, want Ek is die Here, jou God.

8 “Maar hierdie klomp mense het teen My in opstand gekom. Hulle wou nie luister wat Ek vir hulle sê nie. Hulle wou nie ontslae raak van hulle afgode nie. Toe het Ek hulle gewaarsku dat Ek kwaad gaan word oor wat hulle doen en hulle gaan straf. Dit het al gebeur nog voor Ek Israel uit Egipte gelei het.

9 Maar Ek het hulle nie gestraf nie. Ek het Myself aan hulle verbind, en Ek wou my groot Naam beskerm. Ek was bang die ander nasies spot met Israel as Ek hulle nie uit Egipte uitlei nie omdat Ek belowe het dat Ek dit sou doen.”

Die reddende God en sy hardkoppige volk

10 “Daarom het Ek my volk uit Egipte, die land waar hulle gevangenes was, uitgelei. Ek het hulle die woestyn in geneem.

11 Daar het Ek vir hulle gesê wat hulle moet doen as hulle wou bly lewe. Ja, elke mens wat doen wat Ek sê, sal aanhou lewe.

12 Ek het toe ook vir hulle die sewende dag as ’n dag gegee waarop ’n mens moet rus. Die sewende dag was die dag waarop Ek hulle daaraan herinner het dat Ek, die Here, hulle eenkant gesit het om aan My te behoort en soos Ek te wees. Hulle was my spesiale volk.

13 “Maar dit was nie lank nie, toe kom die mense van Israel in opstand teen My. Dit het gebeur toe hulle nog in die woestyn was. Hulle wou nie doen wat Ek gesê het nie, alhoewel hulle geweet het dat dit die enigste manier is om te bly lewe. Hulle het ook nie op die sewende dag van die week gerus soos Ek beveel het nie. Daarom het Ek gedreig om hulle te straf omdat Ek baie kwaad was. Ek het planne begin maak om hulle van die aardbol af te vee,

14 maar ook daar het Ek my woede ingehou om my Naam te beskerm. Anders sou die ander nasies lag en sê: ‘Die Here het sy volk uit Egipte gelei, maar Hy was nie sterk genoeg om vir hulle in die woestyn te sorg nie.’

15 “Maar daar in die woestyn het Ek vir daardie klomp mense belowe dat Ek hulle nie na die land toe sal vat wat Ek belowe het om vir hulle te gee nie. Daardie land is die mooiste land wat daar op die aarde is. Dit loop oor van goeie dinge.

16 Ek het vir hulle gesê dat hulle nie die goeie land sal sien nie omdat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle sê nie. Hulle het My geïgnoreer. En hulle het nie op die sewende dag van die week gerus soos Ek hulle beveel het nie. Hulle het maar weer voor afgode gaan neerbuig en hulle aanbid.

17 Nogtans het Ek hulle weer jammer gekry en hulle nie daar in die woestyn vernietig nie.

18 “Toe het Ek hulle kinders gewaarsku en gesê hulle moet oppas dat hulle nie dieselfde pad as hulle ouers loop nie. Ek het gesê hulle moet ook nie hulleself besoedel deur afgode te aanbid nie.

19 Ek het vir hulle gesê: Ek is die Here, julle God. Doen wat Ek vir julle sê. Luister na wat Ek julle beveel.

20 Rus op die sewende dag, want die sewende dag herinner jou daaraan dat Ek die Here jou God is.

21 “Maar hierdie mense het toe ook teen My in opstand gekom. Hulle wou nie doen wat Ek beveel het nie, al het hulle geweet dat dit die enigste manier is om aan die lewe te bly. Hulle het geweier om op die sewende dag te rus. Toe het Ek hulle gedreig dat Ek hulle gaan straf omdat Ek kwaad was vir hulle. Hulle was nog in die woestyn toe dit gebeur het.

22 Maar nogtans het Ek dit nie gedoen nie. Ek het hulle nie vernietig nie om my Naam te beskerm voor die ander nasies omdat Ek belowe het om Israel uit Egipte te lei.

23 Maar Ek het wel ’n belofte gemaak terwyl my volk nog daar in die woestyn was. Ek het hulle belowe dat Ek hulle nog eendag onder die nasies gaan verstrooi

24 omdat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle sê nie. Hulle het net gedoen wat hulle wou. Hulle het nie op die sewende dag gerus nie. En hulle het voor die afgode van hulle voorouers neergebuig.

25 “Daarom het Ek toegelaat dat hulle gewoontes aanleer wat geen waarde het nie en wat hulle uiteindelik hulle lewe sal kos.

26 Ek het hulle gelos dat hulle hulle lewe verwoes met die goeie geskenke wat Ek vir hulle gegee het. Ek het maar net toegekyk hoe hulle hulle oudste kinders aan afgode wy deur hulle as offers te verbrand. Ek het dit toegelaat sodat die dag kon kom waarop Ek hulle sou vernietig. Dan sou Ek vir hulle duidelik wys dat Ek, en Ek alleen, die Here is.”

Die Here se straf is voor die deur

27 “Daarom moet jy vir die mense van Israel hard en duidelik sê wat Ek, die Here, Esegiël se God, sê: Julle oupas en oumas het aangehou om My te beledig en in die rug te steek.

28 Kort nadat Ek hulle die pragtige land gegee het wat Ek hulle belowe het, het hulle offers en wierook oor die hele land vir hulle afskuwelike afgode verbrand. Hoe kwaad het Ek nie geword nie! Hulle het voor elke afgod gebuig. Hulle het olies wat lekker ruik en wierook gebring en hulle afgode daarmee aanbid.

29 Ek het vir hulle gevra: Waarheen gaan julle? Hoekom loop julle na elke hoë plek? (Israel bring vandag nog sy afgodsoffers op sulke hoë plekke.)

30 “Daarom moet jy vir die volk gaan sê die Here, die God van Esegiël, sê: Julle het julle lewe verwoes deur nikswerd afgode te aanbid. Julle oupas en oumas het dit ook gedoen. Julle was soos ’n getroude vrou wat by ander mans gaan slaap. Julle het My verruil vir afskuwelike afgode.

31 Julle het geskenke vir julle afgode gebring. Julle het julle kinders as offers vir hulle verbrand. En nou kom sit julle ewe vroom en vra dat Esegiël My moet vra om julle te help! Moet Ek na julle luister, Israel? Die Here, Esegiël se God, wil by julle weet: Moet Ek My deur julle laat raadpleeg? So seker as wat Ek leef, Ek sal nie met julle praat nie. Ek het niks om vir julle te sê nie.

32 “Julle sê: ‘Ons wil soos die ander nasies maak. Ons wil ook gode hê wat van hout en klip en metaal gemaak is.’ Maar julle moet dit weet: dit sal vir seker nie gebeur nie.

33 So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek sal julle met ’n ystervuis slaan. Ek sal julle in my woede bykom en platslaan.

34 Met groot krag sal Ek julle tussen die ander nasies uitlei uit die land waar julle gevangenes is, ’n ver en vreemde land.

35 En dan lei Ek julle weer die woestyn in, maar hierdie keer die woestyn vol nasies. En voor daardie nasies sal Ek my vonnis oor julle slegte dade uitspreek. Ek en julle sal mekaar in die oë kyk die dag as dit gebeur.

36 Ek sal julle daar oordeel soos Ek julle oupagrootjies in die woestyn geoordeel het nadat Ek hulle uit Egipte gelei het.” Dit is die Here, Esegiël se God, wat hier praat.

37 “Ek sal julle tel om seker te maak die laaste een staan daar voor My. En dan sal Ek julle beoordeel volgens wat Ek in my ooreenkoms met julle vir julle gesê het julle moet doen.

38 Dan sal Ek almal wat hulle nie aan My gesteur het nie, eenkant sit. Ek sal hulle uit die lande gaan haal waar hulle nou gevangenes is. Hierdie mense sal nooit die land Israel ingaan nie. Die dag as dit gebeur, sal hulle weet dat Ek die Here is.

39 “Wat julle betref, volk van Israel,” so sê die Here, die God van Esegiël, “gaan loop agter julle nikswerd afgode aan! Aanbid maar julle afgode! Maar moet dan nie omdraai en die volgende dag geskenke vir My wil bring omdat julle My nodig het nie. Ek sal nie toelaat dat julle My misbruik nie!”

Die Here se mense kom terug na Hom toe

40 “Op die hoë berg waar my woning was,” sê die Here, Esegiël se God, “sal julle My weer kom dien. Daardie dag sal Ek julle toelaat om voor My te kom staan. Julle sal offers vir My bring en Ek sal dit aanvaar.

41 Dit sal wees wanneer Ek julle ná julle gevangenskap in Babilonië weer terugneem na julle eie land toe. Dan sal Ek julle weer as my eie volk aanvaar. Terwyl al die nasies toekyk, sal Ek julle as my eie spesiale volk aanneem,

42 daardie dag as Ek julle weer teruggebring het na julle eie land toe, sal julle weet en erken dat Ek die Here is. Julle eie land is die pragtige land wat Ek belowe het om aan julle oupagrootjies en oumagrootjies te gee.

43 “Dan sal julle terugdink aan al die afskuwelike dinge wat julle gedoen het, en julle sal julleself daarvoor haat.

44 Daardie dag sal Ek weer my groot Naam beskerm deur julle julle slegte dade te vergewe en julle skuld af te skryf, alhoewel julle diep in julle harte steeds sleg is. As julle dit sien, sal julle nie anders kan nie as om te weet en te erken dat Ek die Here is.”

45 Die Here het verder vir my gesê:

46 “Mens, kyk na die suidekant en sê die volgende woorde. Praat met die woestyn.

47 Sê vir die suidelike woestyn die Here, die God van Esegiël, sê: Hoor die woord van die Here! Ek steek jou aan die brand, bos. Elke boom sal afgebrand word, al die groen en die droë bome. Die verskriklike vlamme van die brand sal nie geblus kan word nie. Alles sal vernietig word, van die suide tot in die noorde.

48 Die hele wêreld sal besef dat Ek die vuur aan die brand gesteek het. Dit kan nie geblus word nie.”

49 Toe sê ek: “Ag, Here my God, die mense sê al van my dat ek heeldag in raaisels praat. Hulle verstaan nie wat ek sê nie!”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48