1 Toe het die stem verder met my gepraat: “Mens, eet die boek wat Ek vir jou gegee het. Die boek bevat die boodskap wat Ek wil hê jy na hierdie volk toe moet neem. Gaan sê vir die mense van Israel wat in die boek staan. Gaan sê vir hulle wat Ek sê.”
2 Ek het toe die boek in my mond gesit en dit geëet. Die Here het my die boekrol gevoer.
3 Die Here het toe verder vir my gesê: “Eet die hele boek op. Moenie ’n flentertjie daarvan laat oorbly nie.” Ek het die boek toe heeltemal opgeëet. Die boek was so soet soos heuning. Dit het lekker gesmaak.
4 Toe sê die Here vir my: “Mens, Ek wil hê jy moet nou na die mense van Israel toe gaan en vir hulle presies vertel wat Ek vir jou sê om vir hulle te vertel.
5 Ek stuur jou nie na ’n vreemde volk in ’n veraf land wat ’n taal praat wat jy nie kan verstaan nie. Ek stuur jou na jou eie mense, na Israel toe.
6 Nee, Ek stuur jou nie na ’n volk wie se taal vir jou moeilik en onverstaanbaar sal wees nie. Het Ek jou maar na so ’n volk toe gestuur! Hulle sou dalk na jou geluister het.
7 Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie. Hulle wil nie eens na My luister as Ek direk met hulle praat nie! Hoe sal hulle na jou wil luister? Dit is ’n klomp mense wie se kop net so hard is soos hulle hart!
8 Maar kyk nou mooi. Ek maak jou hart en jou kop net so hard soos die mense van Israel s’n.
9 Ek het jou so sterk soos ’n groot rots gemaak. Jy is nou so hard soos ’n diamant. Daarom moet jy nie bang wees vir die mense nie. Hulle sal niks aan jou kan doen nie. Moenie skrik as hulle vir jou kwaad word nie. Onthou, hulle is ’n klomp mense wat nog heeltyd teen My in opstand is.”
10 Toe het die Here verder met my gepraat: “Laat elke woord wat Ek vir jou sê, eers diep in jou eie hart insink. Luister baie goed as Ek met jou praat, en bêre elke woord diep in jou hart.
11 Gaan dan na jou mense toe wat saam met jou gevangenes in die vreemde land, in Babilonië, is. Gaan praat dan met jou mense. En gaan sê vir hulle alles presies soos Ek, die Here hulle God, vir jou gesê het om vir hulle te sê. Gaan sê dit vir hulle, of hulle nou luister of nie.”
12 Toe het die Gees van die Here my opgetel, en toe die teenwoordigheid van die Here van daardie plek opstyg, het dit geklink soos wanneer ’n groot aardbewing die grond en die bosse vernietig.
13 Die geluid wat ek gehoor het, was die vlerke van die lewende wesens wat teen mekaar geskuur het toe hulle opgestyg en begin vlieg het. Die wiele wat in mekaar gedraai het, het gemaak dat die geluid so groot was soos ’n aardbewing wat die aarde tref.
14 Die Gees van die Here het my toe opgetel en van daardie plek af weggevat waar ek die Here gesien het. Ek het baie benoud en bang gevoel. Maar die Here se hand was swaar op my.
15 So het ek teruggekom by my eie mense, die gevangenes wat daar in die dorp Tel-Abib gebly het, naby die Kebarrivier. Ek was so oorweldig deur wat ek gesien en gehoor het dat ek vir sewe dae niks anders kon doen nie as om net tussen hulle te sit.
16 Na ’n week het die Here weer met my gepraat:
17 “Mens, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. Jy is soos ’n skaapwagter wat vir die skape verantwoordelik is. Jou werk is om mooi te luister na wat Ek vir jou sê sodat jy hierdie volk kan gaan waarsku. Jy praat met hulle namens My.
18 Ek waarsku die slegte mens wat niks met My en my voorskrifte te doen wil hê nie, en sê: ‘Jy verdien die doodstraf oor wat jy doen.’ As jy nie hierdie mens waarsku teen die gevolge van sy slegte dade nie en hy gaan dood omdat Ek hom ter dood veroordeel, sal sy dood die gevolg wees van sy slegte dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou omdat hy dood is. Jy moes hom gewaarsku het.
19 As jy hom wel gewaarsku het, maar hy steur hom nie daaraan nie en hou aan met sy verkeerde optrede en weier om om te draai en agter My aan te loop, sal hy doodgaan omdat ek Hom tot die dood veroordeel. Maar dan het jy jou lewe gered omdat jy hom gewaarsku het en gedoen het wat Ek jou beveel het.
20 En as goeie mense wat tot nou toe reg geleef en goed gedoen het, ophou om agter My aan te loop en verkeerde dinge begin doen, sal hulle doodgaan. As jy hulle nie gewaarsku het en hulle gewys het op die gevolge van hulle dade nie, sal hulle as gevolg van hulle dade sterf. Die goeie dinge wat hulle voorheen gedoen het, sal nie tel nie. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir hulle dood omdat jy hulle nie betyds gewaarsku het nie. Ek sal hulle bloed van jou hande eis.
21 Maar as jy hulle betyds gewaarsku het en hulle draai om van hulle slegte dade en loop agter My aan, sal hulle leef. En jy sal so jou eie lewe red.”
22 Toe het die Here se krag oor my gekom en Hy het vir my gesê: “Gaan na die vallei toe. Ek wil daar by die rivier met jou praat.”
23 Ek het toe opgestaan en na die vallei toe gegaan. Ek het in die vallei weer die sitplek van die Here gesien, net soos ek dit by die Kebarrivier gesien het, met die Here wat bo-op die troon sit. Ek het met my gesig in die stof neergeval. Dit het gevoel of die lewe uit my gevloei het.
24 Toe het die Gees oor my gekom en my op my voete voor die Here laat staan. Die Here het daar vir my gesê: “Gaan nou. Gaan sluit jou in jou huis toe.
25 Mens, dit sal wees asof jy met toue vasgebind is terwyl jy in jou huis toegesluit is. Jy sal nie tussen ander mense kan kom nie.
26 Ek sal jou mond toemaak sodat dit sal wees asof jy nie kan praat nie. Jy sal nie vir jou volk kan bid nie. Jy sal nie die mense wat op die verkeerde pad loop, kan waarsku nie omdat Ek jou sal keer, al wil jy graag omdat jy sien hoe opstandig die volk teen My is. Jy sal niks teen hulle kan sê nie, vir so lank as wat Ek bepaal.
27 Maar dan sal die dag kom dat Ek jou die opdrag gee. Dan sal jy weer kan praat. En dan moet jy presies vir jou mense sê wat Ek, die Here jou God, jou beveel het om vir hulle te sê. Party van die volk sal dan na jou luister, terwyl ander hulle nie sal steur aan wat jy sê nie. Want hulle is ’n klomp opstandige mense.”