5 Die vlerke van die wesens wat beweeg het, het ’n oorverdowende geraas gemaak wat soos die stem van die Here geklink het. ’n Mens kon die geraas tot buite die huis van die Here hoor.
6 Die Here sê toe vir die man wat in sy huis diens doen: “Gaan nou tussen die wesens in en vat weer van die gloeiende kole wat tussen die wiele onder die wesens is.” Die man het toe ingegaan tussen die wiele en langs een van die wiele gaan staan.
7 Toe het een van die boodskappers sy hand uitgesteek en van die kole uit die vuur gevat wat tussen die wesens brand en wat natuurlik ook vuurwarm was. Die wese het die kole in die hand gesit van die man wat in die huis van die Here diens doen. Die man het toe die kole gevat en uitgegaan.
8 Al vier die wesens het iets onder hulle vlerke weggesteek gehad wat soos menslike hande gelyk het.
9 Elkeen van die vier boodskappers of wesens het ook vier wiele langs hulle gehad. Hierdie wiele het geskitter, kompleet asof dit van glansende edelstene gemaak is.
10 Die vier wiele het presies dieselfde gelyk. Elke wiel het ook ’n wiel binne-in hom gehad wat dwars in hom was.
11 Die wiele het gemaak dat die wesens in enige van die vier windrigtings kon beweeg wat hulle wou, sonder om om te draai as hulle beweeg. Hulle kon reguit in die rigting gaan wat hulle koppe gewys het sonder om ooit na dié kant toe te draai.