8 Die volgende oggend het die Here weer met my gepraat. Hy het vir my gesê:
9 “Mens, die volk Israel is mense wat teen My in opstand is. Hulle het vir jou gevra wat alles beteken wat jy gisteraand gedoen het.
10 Gaan sê nou vir hulle: Die Here, die God van Esegiël, sê dat wat Esegiël gedoen het, ’n boodskap vir koning Sedekia is wat in Jerusalem woon, en vir die mense van Israel wat saam met hom in die land van Israel woon.
11 Verduidelik dan dat wat jy gedoen het, Esegiël, vir die volk wil wys wat baie binnekort met hulle gaan gebeur. Hulle gaan van hulle huise verdryf word. Hulle gaan deur hulle vyande as gevangenes na ’n vreemde land toe gevat word.
12 “Selfs koning Sedekia van Jerusalem sal uit die stad verdryf word. Hy sal een nag deur ’n gat in die stadsmuur moet klim. En hy sal slegs die besittings wat hy op sy skouers kan dra saam met hom vat. Hy sal sy gesig toemaak soos iemand wat as ’n gevangene weggeneem word om die doodstraf te kry vir sy slegte dade. En hy sal nooit weer sy vaderland sien nie.
13 Ek gaan hom vang soos wildvangers ’n verskrikte bok in hulle net vang. En dan sal Ek hom na Babilonië, ’n ver en vreemde land, wegvoer. Hy sal nie die vreemde land kan sien nie omdat sy oë uitgesteek sal wees, en hy sal in daardie vreemde land doodgaan.
14 “Ek sal ook sy helpers en die mense wat hom bedien en die wagte wat hom oppas, saam met hom laat wegneem na die ver en vreemde land. Hulle sal in die oorloë doodgaan.