Esegiël 13:19-23 DB

19 Julle het mense op ’n pad gelei sodat hulle al verder van My af weggegaan het, en julle het boonop van hulle betaling gekry om dié boel leuens aan hulle te verkondig. Julle het leuens aan mense vertel wat graag leuens wil hoor. En so het julle mense doodgemaak wat nie doodgemaak moes word nie. En julle het lewe belowe aan mense wat nie gaan lewe nie.

20 “Daarom breek Ek al die toorkrag waarmee julle dié arme mense in julle mag probeer kry het soos ’n mens wilde voëltjies vang om hulle in ’n hok op te sluit,” sê die Here, die God van Esegiël. “Ek ruk die net waarmee julle hulle soos voëltjies probeer vang het, uit julle hande uit. En Ek maak die hokkie se deur wyd oop sodat die mense in vryheid kan uitvlieg.

21 Ek vernietig al julle toordery en Ek red my mense uit julle mag. Hulle sal nie langer slagoffers van julle leuens wees nie. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.

22 Julle het die mense wat goeddoen, moedeloos gemaak met al die liegstories waarmee julle te koop geloop het, dat Ek hulle nie gaan seën nie. En dit was juis dié mense - dié wat goeddoen - wat Ek wou beskerm. Maar julle het die mense wat besig is met slegte dade aangemoedig om met hulle kwaad aan te gaan deur vir hulle te sê dat Ek hulle sal seën, selfs al hou hulle aan om slegte dinge te doen.

23 Julle sal nie verder kan vertel van alles wat julle kwansuis in visioene sou gesien het nie. En julle sal nie kan aangaan met julle toordery nie. Want Ek sal my mense, dié mense wat goeddoen, uit julle mag red. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.”