31 “Jy het op elke straathoek plekke gebou waar jy jou afgode kon neersit. En op elke plein in jou dorpe het jy altare gebou om vir jou afgode te offer. Jy het slegter as ’n slet opgetree. Jy was ’n straatvrou wat nie eens betaling gevra het om jou liggaam vir ander mans te gee nie.
32 Jy was die slegte vrou wat met ander mans in die bed geklim het, maar niks met haar eie Man te doen wou hê nie.
33 ’n Straatvrou word betaal as sy haar liggaam vir mans gee. Maar nie jy nie! Jy het die mans wat jy na jou toe gelok het, betaal om dit te doen. Jy het hulle met geskenke omgekoop sodat hulle by jou sal slaap.
34 Waar ’n slet betaal word vir wat sy vir ander mans doen, het jy presies die teenoorgestelde gedoen. Niemand het jou betaal nie. Jy het hulle betaal.
35 “Daarom, jou slegte vrou, hoor as die Here met jou praat.”
36 Dit is hoe die Here, die God van Esegiël, oor jou dink: “Jy het jouself uitgetrek vir al wat man is. Jy het voor afskuwelike beelde van afgode neergeval en hulle aanbid. Jy het my kinders aan jou afgode geoffer.
37 Daarom gaan Ek die volgende dinge doen: Ek maak al jou vriende bymekaar, al die mans vir wie jy so lief was. Ja, selfs die mans van wie jy nie gehou het nie en vir wie jy jou neus opgetrek het, maak Ek bymekaar. En dan sal Ek al jou klere voor hulle uittrek. Hulle sal jou sien, en jy sal van skaamte inmekaarkrimp.