8 “Toe het Ek eendag weer daar verbygegaan waar jy bly, en gesien dat jy nou oud genoeg is om te trou. En toe het Ek jou my klere gegee om aan te trek en met jou getrou. Ek het ’n ooreenkoms met jou aangegaan om jou huweliksmaat te wees. Jy het Myne geword,” sê die Here, Esegiël se God.
9 “Toe het Ek jou gebad en die bloed van jou afgewas. Ek het jou vel met die heerlikste olies ingevryf.
10 En Ek het duur klere gekoop sodat jy jou mooi kon aantrek. Jou klere was van die beste en duurste wat ’n mens kan koop. Ek het ook vir jou duur skoene gekoop.
11 En Ek het vir jou pragtige juwele gekoop: hangertjies vir jou nek en armbande,
12 en ander juwele waarmee jy jou mooi kon maak. Ek het selfs ’n goue kroon gekoop om op jou kop te sit, want jy was my koningin.
13 So het Ek jou mooi gemaak met die goud en silwer wat Ek ten duurste vir jou gekoop het. Jou klere was die duurste en die mooiste wat ’n mens in die hande kan kry. Jy het die beste en lekkerste kos gekry. En jy was mooier as ooit tevore. Vir My was jy die kosbaarste wat Ek het. Jy het soos ’n koningin gelyk, en jy was ook vir My ’n koningin!
14 Die hele wêreld het van jou geweet. Hulle het gepraat oor hoe mooi jy was. Ek het jou so pragtig gemaak met alles wat Ek vir jou gegee het,” sê die Here, die God van Esegiël.