Esegiël 17:7-13 DB

7 “Maar toe het ’n ander arend gekom, ook met wye vlerke en baie vere. Die druiwestok het toe sy wortels en takke na hierdie arend toe uitgesteek sodat hy vir die druiwestok water kon gee.

8 Die druiwestok het so gemaak, al was hy by goeie water en in goeie grond geplant. Daar waar hy gestaan het, kon hy groei sodat hy ’n pragtige druiwestok kon word en baie blare en soet vrugte lewer.

9 “Nou vra die Here, Esegiël se God: Moet Ek nou hierdie druiwestok los dat hy maar so aangaan? Nee! Ek sal hom uittrek, met wortels en al! Ek sal sy druiwetrosse afsny. Sy blare sal verdroog en afval. Ek sal die hele plant uittrek. En dit sal nie eens moeilik wees nie. Ek sal nie baie mense of ’n klomp soldate nodig hê om dit te doen nie.

10 “En dan, wanneer die druiwestok op ’n ander plek geplant word, sal hy weer groei? Nee, hy sal heeltemal verdroog omdat Ek die warm oostewind uit die woestyn sal stuur om hom te vernietig. Dan sal die druiwestok in die goeie grond vrek waar dit vroeër so welig gegroei het.”

11 Toe sê die Here ek moet die volgende boodskap vir my mense gee:

12 “Sê vir die mense wat teen My in opstand is: Verstaan julle nie wat Ek vir julle probeer sê met hierdie storie nie? Kom Ek verduidelik vir julle wat Ek daarmee bedoel. Die koning van Babilonië het Jerusalem verower en toe haar koning en leiers as gevangenes weggeneem na sy land, ver van Jerusalem.

13 Toe het die koning van Babilonië ’n ooreenkoms aangegaan met ’n lid van die koninklike familie wat lojaal aan hom was. Die koning het Israel se belangrikste leiers as gevangenes na sy land toe weggevat.