2 Toe ek die stem hoor, het dit gevoel of ek regop geruk word. Ek het besef dat dit die Gees van die Here was wat oor my gekom het. Ek het krag gekry om regop voor die troon te gaan staan. Toe het ek goed na die Here se stem geluister.
3 Hy het gesê: “Mens, Ek stuur jou na die nasie, na Israel toe. Dit is ’n nasie wat aanhoudend teen My in opstand kom. Hulle oupagrootjies en oupas het van die begin af al teen My in opstand gekom. En vandag is die volk Israel steeds in opstand teen My.
4 Hulle is vreeslik moedswillig, die mense na wie toe Ek jou stuur. Hulle doen nie wat Ek vir hulle sê nie. En hulle is hardkoppig. Hulle hoor nie as Ek met hulle praat nie. Ek gee jou die opdrag: jy moet presies vir hulle gaan sê wat Ek, die Here hulle God, vir jou sê om vir hulle te gaan vertel. Jy moet vir hulle gaan sê: ‘Dit is wat die Here sê wat oor alles regeer!’
5 Jy moet met hulle praat, of hulle nou luister en of hulle nie luister nie. Want onthou, hulle is ’n klomp rebelle wat heeltyd teen My in opstand is. As hulle na jou geluister het, sal hulle ten minste weet dat daar iemand onder hulle was wat gepreek het oor wat die Here wil hê hulle moet doen.
6 “Mens, jy mag nie bang wees vir die mense vir wie jy hierdie boodskap bring nie. Jy mag jou ook nie steur aan wat hulle dalk oor jou boodskap te sê het nie. Selfs al dreig hulle jou en voel dit of hulle beledigings jou soos ’n skerp doringheining of giftige skerpioene steek, moet jy regop tussen hierdie klomp mense gaan staan en hardop alles uitroep wat Ek vir jou sê. Moenie dat hulle jou die skrik op die lyf jaag nie. Onthou heeltyd hoe hulle van die begin af tot nou toe teen My in opstand was.
7 Jou werk is om alles wat Ek vir jou sê presies so vir hulle te sê, of hulle hulle daaraan steur of nie. Onthou dat hulle ’n klomp rebelle is. Hulle sal vir seker nie na jou luister nie!
8 “En jy moet mooi luister na wat Ek nou vir jou gaan sê. Pas op dat jy nie ook teen My in opstand begin kom soos hierdie volk nie. Pas op dat jy nie ook later ’n rebel word soos die mense vir wie jy my boodskap moet gaan verkondig nie. “Maak nou oop jou mond. Ek wil vir jou iets gee wat jy moet eet.”