16 O, swaard, kap na die linkerkant. En na die regterkant. Kap waar jy wil en na wie jy wil.
17 Ja, daardie dag sal Ek ook my hande klap, so bly sal Ek wees dat Ek my woede op julle kon afkoel oor al julle slegte dade. Ek, die Here, het met julle gepraat.”
18 Die Here het met my gepraat. Hy het gesê:
19 “Mens, teken ’n kaart van dié deel van die wêreld. Teken dan op jou kaart twee roetes waarlangs die koning van Babilonië kan reis om by jou land uit te kom. Hy gaan soontoe om jou volk te verwoes. Maak ’n padteken langs die pad net buite die stad Babel, waar die koning van Babilonië bly.
20 Sit die padteken neer daar waar die pad in twee deel. Die een pad gaan Rabba toe, die hoofstad van die Ammoniete. En die ander pad gaan Juda toe, en Jerusalem toe, die hoofstad van jou volk.
21 “Die koning van Babilonië staan nou juis by daardie vurk in die pad. Hy staan en wonder of hy Rabba of Jerusalem moet aanval. Nou gaan hy sy towenaars roep dat hulle vir hom kan kom sê wat hy moet doen. Hulle sal hulle dolosse gooi en diékant toe en daardie kant toe beduie.
22 En dan beduie hulle vir die koning wat hulle dink hy moet doen: Gaan val Jerusalem aan! Die hele weermag maak nou hulle wapens gereed, want hulle gaan Jerusalem aanval. Die bevel is klaar gegee: Val die stad aan! Skree terwyl julle die mense van die stad doodmaak, soldate! Val die stadsmure aan totdat hulle inmekaarstort. Klim bo-oor!