23 “Die mense van Jerusalem dink dis ’n fout. Die koning van Babilonië kan hulle mos nie aanval nie! Hulle het dan vrede met hom gemaak! Hy misgis hom seker! “Maar dan sal die koning van Babilonië die mense van Jerusalem herinner hoe hulle teen hom in opstand gekom het. Hulle het nie hulle woord teenoor hom gehou nie. Hy sal Jerusalem aanval en al die inwoners van die stad gevange neem.”
24 Die Here, die God van Esegiël, sê vir julle: “Julle is skuldig. Julle kry nie eens skaam oor julle slegte dade nie. Wat julle ook al doen om dit weg te steek, almal kan julle slegte dade sien. Moenie eens probeer om dit weg te steek nie. Alles wat julle doen, is sleg. Nou het die tyd gekom dat julle daarvoor gestraf gaan word.
25 “Ek praat nou met die een wat oor Israel regeer. Jy het nie opgehou om sleg te doen nie. Vandag het die dag gekom dat Ek met jou afreken oor jou slegte dade.
26 Haal jou blink kroon af.” Die Here, Esegiël se God, sê: “Ek keer jou om. Niks in hierdie land sal meer dieselfde wees nie. Die mense wat vandag verdruk word, maak Ek môre se heersers. En vandag se ryk en magtige mense maak Ek môre se sukkelaars.
27 Vernietiging! Ek vernietig alles! Ek vee julle land van die kaart af! En Ek herstel julle nie weer nie, tot daar ’n koning kom wat die reg sal hê om julle te straf. Ek sal die stad vir hom gee om te vernietig.”
28 “Mens, sê vir almal wat in die land van Ammon bly, Ek sê die volgende oor hulle gespot met my volk. Die Here, die God van Esegiël, dink só oor hulle: Ek het my wapens reggekry om julle aan te val. Ek het my wapens reggemaak om julle te vernietig. My wapens blink soos ’n weerligstraal.
29 Julle towenaars en die mense wat sê hulle hoor wat julle gode sê, het vir julle gelieg. Hulle het gesê niks sal met julle volk gebeur nie. Maar nou het die dag aangebreek dat Ek al julle mense gaan straf wat aanhou sleg doen. Die slegte mense se dag het aangebreek!