27 Op hierdie manier sal Ek ’n stokkie steek voor jou slegte dade. Jy sal nie meer saam met enige ander man in die bed kan spring nie, soos jy gemaak het vandat jy in Egipte gebly het. Jy sal nooit meer begeer om verkeerde dinge te doen nie, en jy sal ook nie meer wens jy was weer in Egipte nie.”
28 Dit is wat Ek, die Here, Esegiël se God, oor jou sê: “Ek gee jou oor sodat jou vyande met jou kan maak wat hulle wil. Dis die mense op wie jy neergesien het.
29 Hulle haat jou en sal met jou maak wat hulle wil. Hulle sal vat wat hulle wil hê, en dan sal hulle jou kaal en stukkend los. Die hele wêreld sal jou sien vir wat jy is: ’n slegte vrou wat by ander mans geslaap het.
30 Jy het dit alles oor jouself gebring, want jy het jou vertroue op ander nasies gestel. Jy het jouself met hulle afgode besoedel.
31 Omdat jy nes jou sussie gemaak het, sal Ek jou straf deur dieselfde dinge oor jou te bring wat haar ook getref het.”
32 Ja, dis wat die Here, die God van Esegiël, sê: “Ek laat jou uit dieselfde beker drink waaruit jou suster gedrink het. Dit is ’n beker wat tot oorlopens toe vol is met my straf. Die hele wêreld sal sien hoe Ek jou straf, en dan sal hulle vir jou lag en met jou spot omdat Ek jou verwoes het.
33 Jy sal soos ’n dronklap slinger soos Ek jou gaan slaan. Jy gaan net so swaarkry soos jou suster, Samaria.