32 Ja, dis wat die Here, die God van Esegiël, sê: “Ek laat jou uit dieselfde beker drink waaruit jou suster gedrink het. Dit is ’n beker wat tot oorlopens toe vol is met my straf. Die hele wêreld sal sien hoe Ek jou straf, en dan sal hulle vir jou lag en met jou spot omdat Ek jou verwoes het.
33 Jy sal soos ’n dronklap slinger soos Ek jou gaan slaan. Jy gaan net so swaarkry soos jou suster, Samaria.
34 Jy sal die beker wat Ek vir jou gee, moet drink tot die laaste druppel toe. Dan sal jy die beker vat en hom stukkend slaan. En jy sal jou kop teen die muur kap omdat jy sulke dom dinge aangevang het. Dis Ek, die Here, Esegiël se God, wat hier praat.
35 Jy het mos heeltemal van My vergeet. Jy het die rug vir My gedraai. En daarom,” sê die Here God, “sal jy die gevolge moet dra van jou slegte gedrag. Jy wou My mos verwerp en ignoreer!”
36 Die Here het toe vir my gesê: “Mens, kla vir Ohola en Oholiba aan. Vertel vir hulle watter afskuwelike, slegte dinge hulle gedoen het.
37 Hulle het by ander mans geslaap terwyl hulle met My getroud was. En hulle het ander mense doodgemaak. Hulle het by ander mans geslaap deur voor ander afgode neer te buig. En hulle het moord gepleeg deur hulle kinders as offers voor hulle afgode te verbrand.
38 Toe het hulle nog gegaan en my huis onrein gemaak met wat hulle gedoen het. En hulle het die sewende dag wat Ek vir rus opsy gesit het, gebruik om te werk.