36 Die Here het toe vir my gesê: “Mens, kla vir Ohola en Oholiba aan. Vertel vir hulle watter afskuwelike, slegte dinge hulle gedoen het.
37 Hulle het by ander mans geslaap terwyl hulle met My getroud was. En hulle het ander mense doodgemaak. Hulle het by ander mans geslaap deur voor ander afgode neer te buig. En hulle het moord gepleeg deur hulle kinders as offers voor hulle afgode te verbrand.
38 Toe het hulle nog gegaan en my huis onrein gemaak met wat hulle gedoen het. En hulle het die sewende dag wat Ek vir rus opsy gesit het, gebruik om te werk.
39 Op dieselfde dag wat hulle hulle kinders voor hulle afgode vermoor het, het hulle in my huis ingestap en gedink hulle kan My ook aanbid!
40 “Julle twee susters het boodskappers na verre lande gestuur en gevra dat die mans van daardie lande by julle moet kom slaap. En toe hulle by julle aankom, het julle julle gebad en grimering aangesit. Julle het julle beste juwele uitgehaal en vir hierdie mans aangesit.
41 En julle het saam met hulle op julle beste meubels gaan sit. Toe het julle die wierook en olie wat Ek vir julle gekoop het, uitgehaal en dit vir hierdie mans gebruik.
42 Uit julle slaapkamer het die geluide gekom van mans wat by julle slaap. En hierdie mans wat uit die woestyn gekom het, was eintlik ’n klomp dronklappe. Maar hulle het julle beïndruk, want hulle het duur juwele vir julle saamgebring. Hulle het gesê julle is hulle koninginne.