5 “Maar Ohola was nie tevrede om net met My getroud te wees nie. Sy wou graag ook by ander mans slaap. Sy het saam met die Assiriërs in die bed geklim.
6 Die Assiriërs is almal aantreklike jongmanne. Party is kapteins en ander is generaals. Hulle lyk so mooi in hulle blou uniforms as hulle op hulle perde sit.
7 Samaria het haarself vir die aantreklikste mans van Assirië gegee en by hulle geslaap. Sy het hulle afgode aanbid.
8 Want toe sy uit Egipte weggetrek het, het sy nie haar slegte dade agtergelaat nie. Sy het nog nooit opgehou om sleg te doen nie. Sy is nog net so sleg as toe sy ’n jongmeisie in Egipte was. Die Egiptenaars het al by haar geslaap toe sy nog maar ’n jongmeisie was. Hulle het aan haar borste gevat en haar verlei om die vieslikste dinge te doen. Hulle kon nie genoeg van haar kry nie.
9 Daarom het Ek haar oorgegee aan die mans van Assirië. Sy wou hulle mos graag hê.
10 Toe het hulle haar kaal uitgetrek en haar doodgemaak. En hulle het haar kinders as gevangenes saamgevat. Al die mense in die wêreld het van haar gehoor. Sy was die vrou wat gekry het wat sy gesoek het. Ek het haar vir haar slegte dade gestraf.”
11 “Oholiba het alles gesien wat met haar sussie gebeur het, maar sy het alles gedoen wat haar sussie gedoen het. Sy was selfs nog slegter. Sy het haar oorgegee aan die slegste dinge. Sy het saam met elke man in die bed gespring.