10 En mense oor die hele wêreld het in jou weermag gedien. Hulle het gekom van lande so ver as Paras, Lud en Put. As hulle hulle wapens teen die mure van die stad opgehang het, het almal gesê: ‘Dis ’n groot en sterk stad dié!’
11 Die soldate wat reg gestaan het om die stad te beskerm het van so ver as Arwad gekom. En manne uit Gammad het diens gedoen in die torings van waar die stad veilig gehou is. Hierdie manne het ook hulle wapens teen jou mure opgehang. En was jy nie ’n veilige stad nie!
12 “Die groot en belangrike stad Tarsis was die agent wat vir jou gaan handel dryf het, want jy het soveel goed gehad om te verkoop. Hulle het jou ware verruil vir silwer en yster, tin en lood.
13 Ook Griekeland, Tubal en Mesek het met jou besigheid kom doen. Hulle het slawe en kopergoed gebring wat hulle verruil het vir die handelsware wat hulle by jou gekoop het.
14 Die mense van Bet-Togarma het perde en muile gebring en dit geruil om jou goed in die hande te kon kry.
15 Die mense van Dedan het ook gekom om met jou besigheid te doen. Die mense op die eilande het die goed wat jy gemaak het, vir jou verkoop. Hulle het jou betaal met olifantstande en baie duur hout.
16 Die mense van Aram het ook besigheid met jou kom doen, want jy het baie dinge gemaak. Hulle het jou goed kom koop met hulle materiaal wat van verskillende kleure was en die duur edelstene wat hulle uit hulle myne gehaal het.