Esegiël 29:12-18 DB

12 Ek maak van Egipte ’n woestyn waarin niks groei en niemand bly nie. En Ek omring Egipte met lande wat net so ’n woestyn sonder inwoners geword het. Die stede van Egipte sal vir ’n lang tyd sonder inwoners wees. En die lande rondom Egipte sal ook sonder inwoners wees. Ek verstrooi die mense van Egipte. Hulle sal as gevangenes na vreemde lande weggevoer word.

13 “Maar,” sê die Here, die God van Esegiël, verder, “aan die einde van die lang tyd wat Ek vasgestel het, bring Ek die mense van Egipte weer terug na hulle eie land toe. Ek gaan haal hulle uit onder die nasies waar hulle as gevangenes gebly het.

14 Dan maak Ek Egipte weer ryk. Daardie dag bring Ek die mense van Egipte terug van waar Ek hulle verstrooi het. Maar Egipte sal dan vir altyd ’n klein volk bly.

15 Hy sal nooit weer so belangrik word soos hy was nie. Hy sal nooit weer oor die lande rondom hom heers nie.

16 “Israel sal nooit weer dink dat Egipte hom kan help nie. As Israel sien hoe Egipte vernietig is, sal dit Israel herinner hoe verkeerd hy was toe hy op Egipte vertrou het om hom te help en nie sy hoop op sy Here gestel het nie. Daardie dag sal Israel weet dat Ek, en Ek alleen, die Here God is.”

17 Op die ses en twintigste April 571 v.C. het die Here weer met my oor Egipte gepraat. Dit was toe koning Jojagin al 27 jaar ’n gevangene in ’n vreemde land was. Die Here het vir my oor Egipte gesê:

18 “Mens, die weermag van koning Nebukadnesar van Babilonië het vreeslik hard baklei in hulle oorlog teen Tirus. Die soldate se koppe is kaal geskaaf en hulle skouers rou geskuur, so hard het hulle baklei om Tirus met die grond plat te vee. En tog het koning Nebukadnesar en sy soldate niks gekry wat hulle as buit kon wegvat nie, ten spyte van al hulle harde werk.