6 “Daardie dag sal al die mense wat in Egipte bly, ontdek dat Ek die Here is. Ek doen hierdie goed aan jou, want toe Israel jou hulp gevra het, het jy geweier om te help.
7 Toe hy op jou gesteun het, het jy soos ’n riet in sy hand gebreek en hom beseer. Toe hy sy volle gewig op jou sit, het jy onder hom padgegee. Hy het sy rug seergemaak, so hard het hy geval.
8 “Daarom,” sê die Here, die God van Esegiël, “stuur Ek nou ’n hele leërmag soldate teen jou, Egipte. Ek laat hulle jou en al die diere in jou vernietig.
9 Die land van Egipte sal een groot ruïne word. Niks en niemand sal daar bly nie. Ek doen dit sodat die mense wat in Egipte bly, sal besef dat Ek die Here is.“Jy het gesê: ‘Die Nyl is myne. Ek het hom gemaak!’
10 Daarom word Ek jou vyand, en vernietig Ek ook jou rivier. Ek sal die hele land van Egipte verwoes, van die noorde tot die suide toe. Ek sal tot diep in Afrika alles verwoes, so kwaad is Ek vir jou, Egipte.
11 Vir ’n baie lang tyd sal niemand eers deur hierdie land trek nie. Geen mens of dier sal hier kom nie omdat hier niks is nie.
12 Ek maak van Egipte ’n woestyn waarin niks groei en niemand bly nie. En Ek omring Egipte met lande wat net so ’n woestyn sonder inwoners geword het. Die stede van Egipte sal vir ’n lang tyd sonder inwoners wees. En die lande rondom Egipte sal ook sonder inwoners wees. Ek verstrooi die mense van Egipte. Hulle sal as gevangenes na vreemde lande weggevoer word.