1 Op die derde Maart 585 v.C., toe koning Jojagin al twaalf jaar lank ’n gevangene in ’n vreemde land was, het die Here vir my gesê:
2 “Mens, huil oor die farao, die koning van Egipte. Sê vir hom: Jy dink jy is soos ’n sterk jong leeu. Jy is só trots as jy tussen die ander nasies is. Maar weet jy wat jy eintlik is? Jy is eintlik maar net ’n seemonster wat in ’n rivier beland het. En al wat jy regkry, is om modder op te skop.
3 “Daarom stuur Ek baie mense om teen jou te baklei,” sê die Here, Esegiël se God. “Hulle sal jou in hulle nette injaag en jou uit die water sleep.
4 Dan sal Ek jou daar op die strand laat lê. Jy sal daar doodgaan. Al die voëls sal op jou karkas kom sit. En die wilde diere sal aan jou kom vreet.
5 Ek maak dat jy op die berge lê, en dat jou bene in die valleie rondlê.
6 Ek maak die aarde nat met jou bloed, tot by die berge. Jou bloed sal die valleie vol loop.
7 Die dag as Ek jou van die aarde afvee en jou doodmaak, sal Ek sorg dat die sterre donker word. Die wolke sal voor die son inskuif. En die maan sal donker wees.