28 “Dan sal julle weer in die land Israel leef. Dit is die land wat Ek lank terug vir Abraham en Isak en Jakob gegee het. Julle sal my volk wees. En Ek sal julle God wees.
29 Ek sal julle silwerskoon maak sodat julle nie meer slegte dinge sal doen nie. Ek sal aan julle goeie oeste op julle lande gee. Niemand sal meer honger wees in julle land nie.
30 As julle vrugtebome plant, sal hulle elke jaar meer vrugte dra as wat julle kan eet. En julle sal rekordoeste hê van koring en mielies. Die nasies rondom julle sal nooit weer met julle kan spot omdat julle swaarkry en honger is nie.
31 Daardie dag sal julle onthou watter slegte dinge julle aangevang het. En dan sal julle bloedrooi van skaamte word. Julle sal julleself haat oor al julle sondes.
32 “Maar onthou,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek doen nie hierdie goeie dinge vir julle omdat julle dit verdien nie. Nee, my volk Israel. Die teenoorgestelde is waar. Julle behoort julle morsdood te skaam oor al die lelike goed wat julle aangevang het!”
33 So sê die Here, die God van Esegiël: “Wanneer Ek julle skoonmaak van al die slegte dinge wat julle gedoen het, sal Ek weer mense in julle stede laat bly. Die bouvalle waar julle stede eers was, sal weer opgebou word.
34 Die veld wat nou verlate lê, sal weer deur die boere in landerye omskep word. Die mense wat nou by julle plase verbyloop, is geskok oor hoe verlate alles is.