Esegiël 36:30-36 DB

30 As julle vrugtebome plant, sal hulle elke jaar meer vrugte dra as wat julle kan eet. En julle sal rekordoeste hê van koring en mielies. Die nasies rondom julle sal nooit weer met julle kan spot omdat julle swaarkry en honger is nie.

31 Daardie dag sal julle onthou watter slegte dinge julle aangevang het. En dan sal julle bloedrooi van skaamte word. Julle sal julleself haat oor al julle sondes.

32 “Maar onthou,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek doen nie hierdie goeie dinge vir julle omdat julle dit verdien nie. Nee, my volk Israel. Die teenoorgestelde is waar. Julle behoort julle morsdood te skaam oor al die lelike goed wat julle aangevang het!”

33 So sê die Here, die God van Esegiël: “Wanneer Ek julle skoonmaak van al die slegte dinge wat julle gedoen het, sal Ek weer mense in julle stede laat bly. Die bouvalle waar julle stede eers was, sal weer opgebou word.

34 Die veld wat nou verlate lê, sal weer deur die boere in landerye omskep word. Die mense wat nou by julle plase verbyloop, is geskok oor hoe verlate alles is.

35 Maar wanneer Ek julle terugbring, sal die mense sê: ‘Kan jy dit glo? Hierdie godverlate land het nou die Here se tuin geword!’ Die stede wat bouvalle is, sal dan weer veilig wees vir al die mense wat daarin woon.

36 Dan sal al die nasies wat nog om julle bly, weet en erken dat Ek, die Here, die bouvalle weer opgebou het. Hulle sal weet dat dit Ek is wat landerye in die woestyn gemaak het. Want Ek, die Here, het belowe dat Ek dit sal doen. En Ek gaan dit doen!”